Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Kyk: Die vrou wat nie skrik vir bendes nie

Waar daar skurke is, is daar helde ook, blyk dit as ’n mens deur die doodloopstrate en tikhuise van Lavender Hill en Retreat op die Kaapse Vlakte beweeg.

Jy kry jong mans wat met tronktjappie-arms voor in hul broeke begrawe die straathoeke volstaan; kepse tot lank na sonsak laag oor die voorkop getrek.

En dan kry jy Ellen Borens en talle ander soos dié 68-jarige wat nie terugstaan vir bendes en kwaaddoeners nie. Sy “begelei” bedags kinders skool toe, wanneer die pad van slaapplek tot leerplek eenvoudig te gevaarlik is in dié gebied waar oud en jonk die klank van koeëls ken.

“Ek stap hiervandaan tot by Hekstraat, met die hele kontrei se kinders,” het sy Vrydagaand aan Netwerk24 vertel.

“(Die gangsters) was nog nooit lelik gewees met my nie,” sê sy en lag uitbundig as sy geterg word dat sy haar lyf bouncer hou hier in Lavender Hill, waar sy self al van kindsbeen bly.

Netwerk24 het die afgelope Vrydagaand saam met sers. Francois Pentz en sy span van ses metropolisielede die rondes gedoen om te sien hoe “ontwrigtende polisiëring” toegepas word in dié probleemgesaaide deel van die Kaapse Vlakte.

Van April 2014 tot Maart 2015 is 43 moorde gepleeg in dié area, wat onder Steenbergpolisiekantoor se jurisdiksie val. Die boekjaar voor dit: 42.

Trouens, oor die afgelope dekade gemeet was daar slegs tydens een jaar minder as tien moorde hier gepleeg, volgens die jongste SAPD-misdaadstatistiek.

Hoewel meeste inwoners te bang was om op kamera met Netwerk24 te gesels, het talle hul steun aan die metropolisie gegee wat besig was om mense wat verdag voorkom te deursoek vir dwelms, soos tik, dagga en Mandrax.

En om “jongens” van straathoeke af te jaag.

Dié vermeende dwelmhuis is Vrydagaand “geslaan” deur lede van die metropolisie op die Kaapse Vlakte. Die mure en kombuisekaste was kaal en leeg, die kamers donker en groepies mans is deursoek vir dwelms. Foto: Jaco Marais
Sy lag uitbundig as sy geterg word dat sy haar lyf bouncer hou hier in Lavender Hill...

Ná sonsak, in Nyasa-weg in Retreat, nie te ver van Steenbergpolisiekantoor nie, storm sers. Pentz en kollegas ’n berugte huis binne.

Buite, teen die muur is ’n bord wat lees Nadia’s Day Care – ’n hopeloos verouderde oorblyfsel van ’n vroeëre era in die bestaan van dié eiendom wat Pentz nou as ’n “gekaapte” woning beskryf: Wanneer die eienaar beheer verloor oor wie daar bly en wat daar plaasvind.

Die laasgenoemde is ’n makliker raaisel om op te los as die eersgenoemde.

Ons kinders bly in prisons. Dis te rof hier.

’n Klomp mans word in die donker vir dwelms deursoek. ’n Vrou (26), wat so jonk soos ’n tiener lyk, sit op ’n bed sonder ’n broek aan en glimlag verleë vir die polisieman. By een man se sak val ’n bottelnek uit.

Ander dwelm-toebehore word in die huis gevind, ’n posseëlgrootte sakkie met wit poeier word gekonfiskeer. Dit blyk babapoeier te wees: “Wat die ouens doen, is hulle verkoop dit aan toeriste (as kokaïen),” verduidelik Pentz. “In Langstraat het ons gesien hulle vat Sinutab en verkoop dit aan toeriste as Ecstasy vir R80 per pil.”

Terug in Lavender Hill, kort na 20:00, staan drie ma’s nader op die sementplaas tussen twee drieverdiepingwoonstelblokke waar die metropolisie ’n groepie seuns deursoek. Grafitti in sierskrif teen die een muur lees “Lavender Hill for Life”.

Hoe gaan dit hier? “Dit het rof gegaan, maar dis bietjie stil nou,” sê die vrou met die hardste stem.

En dan praat hulle in ’n koor verder, met die een wat by die ander aanvul en oorvat in ’n koor van kapsie: “Dis reg (wat metropolisie) doen, om jongens van die hoeke af te kry. Nou kan ons ook ’n bietjie buitekant staan. Ons kry nie eers kans om buite te staan nie. Wie wil nou die heeldag in die huis sit. Ons kinders kan nie speel nie.

“Hulle hou vir ons prisoner. Ons kinders bly in prisons. Dis te rof hier. Maar ons is bly as die polisie hier is. Net om dit rustig te hou. Want die’s ons almal se plek maar nou lyk dit amper asof dit net aan hulle (die bendes) behoort. Dis mos verkeerd so.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.