Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
KYK: Diego en Bagheera op die spoor van misdadigers

Twee misdadigers, vermoedelik van die Chartwell-omgewing in Johannesburg, moet maar eerder met hul oë oop slaap, want Diego en Bagheera is op hul spoor.

Die booswigte het die fout gemaak om by dié twee snuffelhonde, wat stropers in die Krugerwildtuin-omgewing opdreun, se eienaars se huis in te breek.

Diego en Bagheera, twee Australiese herdershond-kruisings van die Inscent K9-eenheid, was Woensdag saam met hul eienaars, Warrick en Ryan Gibbs, en die polisie kort op die hakke van die booswigte wat glo gereeld in die omgewing bedrywig is.

Warrick het Woensdag aan Netwerk24 gesê die booswigte het omstreeks 02:30 in sy erf rondbeweeg en verskeie besittings gesteel.

Diego (links) en Bagheera geniet Woensdagmiddag ’n speelkans saam met Warrick Gibbs. Foto: Melinda Stuurman

“Die diewe het by die verste punt in ons erf ingekom. Ons het niks vermoed nie totdat ons Woensdagoggend gesien het dat kaste in ons motorhuis se deure oopstaan. Nadat ons verdere ondersoek ingestel het, het ons gesien dat ander besittings soos ons fietse ook gesteel is.

“Ons het die booswigte op kringtelevisiemateriaal van die buurtwag gesien. Daar was twee verdagtes,” sê hy.

Diego en Bagheera, twee jaar oue broers, was ten tyde van die voorval in die huis, omdat Gibbs-hulle die honde wil beskerm. “Daar is gereeld voorvalle waar honde vergiftig word, en daarom hou ons hulle in die huis,” vertel Gibbs.

Diego en Bagheera met hul vlymskerp neuse is Woensdag net ná 08:00 die eerste keer deur hul eienaars ingespan om die boewe se spoor te vat.

“Hulle het ons gelei na ’n landelike gebied sowat 3 km van ons huis af. Volgens wet mag ons egter nie verder gaan en verdagtes identifiseer sonder die polisie se teenwoordigheid nie, en daarom moes ons stop. Ek vertrou die honde en glo vas dat die verdagtes daar woon of rondbeweeg,” sê Gibbs.

Die twee honde is Woensdagmiddag weer ingespan om die verdagtes te gaan soek, dié keer saam met die polisie. “Die polisie wou aan die anderkant van die Jukskeirivier die soektog voortsit. Ons het die honde daarheen geneem, maar Diego wou met alle mag terugkeer na die duskant van die rivier. Die polisie moes egter die soektog stopsit omdat hulle op ’n ander voorval moes reageer,” sê Gibbs.

Diego (voor) en Bagheera was Woensdag aan die voorpunt van ’n uitgebreide soektog na twee verdagtes wat by hul eienaars se eiendom ingebreek het. By hulle is hul eienaars, Ryan (links) en Warrick Gibbs. Foto: Melinda Stuurman

Hy sê hy, sy broer Ryan, Diego en Bagheera sal enige verdagte bewegings fyn dophou, juis omdat die inbrekers kan terugkeer.

“Indien ons enige leidrade van beeldmateriaal in die omgewing ontvang, sal ons die polisie onmiddellik inlig en die honde so gou moontlik aktiveer,” sê hy.

Diego en Bagheera is ook aktief betrokke by anti-stropingseenhede in die omgewing van die Krugerwildtuin.

Hulle is egter nie net bekend daarvoor dat hulle misdadigers vastrek nie, maar ook vir hul vernuf om vermiste mense op te spoor.

Die twee honde het juis die naweek ’n bejaarde man met sy familie herenig nadat die man in die Wonderboom-omgewing vermis geraak het.

“Diego en Bagheera is twee honde om op trots te wees,” sê Gibbs.

• Kapt. Mavela Masondo, provinsiale polisiewoordvoerder, het nie op navrae oor die voorval gereageer nie.

Diego en Bagheera se eienaars, die broers Warrick (links) en Ryan Gibbs. Foto: Melinda Stuurman
Warrick Gibbs hou Woensdagmiddag vir Bagheera vas nadat hulle teruggekeer het van ’n soektog na verdagtes wat by hul eiendom ingebreek het. Foto: Melinda Stuurman
Inbrekers het Woensdag in die vroeë oggendure hulself gehelp aan verskeie besittings by die Gibbs-broers se woning in Chartwell, Johannesburg. Foto: Melinda Stuurman

Meer oor:  Stropers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.