Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
KYK: Eienaar van dagsorg in arres oor ‘mishandeling’

Die eienaar van Myne Maatjies, ’n dagsorgsentrum in Randfontein, Gauteng, en twee personeellede is Donderdag in verband met klagte van aanranding in hegtenis geneem.

Dit kom nadat ontstoke ouers hulle vroeër die dag na die polisiekantoor in Randfontein gehaas het om klagte teen die vrou, wat glo ook die dagsorgsentrum bestuur, aanhangig te maak nadat ’n video waarin kinders oënskynlik geslaan en mishandel word op sosiale media versprei is.

In die video kan gesien word hoe die kinders onder meer teen hul kop geklap, verjaag en rondgestamp word.

Die eienaar van Myne Maatjies in Randfontein word Donderdagmiddag in hegtenis geneem.

“My bloed kook behoorlik en ek voel asof ek iemand te lyf kan gaan,” het ’n pa, wat sy dogtertjie aan die begin van die jaar by die dagsorgsentrum ingeskryf het, aan Netwerk24 gesê.

“Ek is een van vyf ouers, van wie ek weet, wat klagte teen die dagsorgsentrum aanhangig gemaak het. My vrou het my vanoggend in ’n histeriese toestand gebel en my die video, waarin kinders rondgeruk en gestamp word, gestuur. Ek is dadelik na die plek toe om my kind daar te gaan uithaal. Daar was ander ouers wat dieselfde gedoen het. Ek voel nou soos ’n slegte pa omdat ek toegelaat het dat my kind so mishandel word. Sy het juis in Februarie huis toe gekom met ’n seer oortjie. Dit het kompleet gelyk asof iemand haar aan haar oor geknyp of dit gedraai het.”

Volgens die pa is sy dogter die afgelope tyd teruggetrokke, huilerig en wou sy glo nie meer na die dagsorgsentrum gaan nie.

“Die video was die laaste strooi. Die bure langs die huis sê dat die kinders altyd geskree en gehuil het en nie gelag of gespeel het nie,” sê die pa.

Sy kind het in Februarie by die huis gekom met ’n seer oortjie. “Dit het kompleet gelyk asof iemand haar aan haar oor geknyp of dit gedraai het,” het ’n pa gesê.

Nog ’n ouer het aan Netwerk24 gesê dat maatskaplike werkers onmiddellik ondersoek by die dagsorgsentrum moet instel.

“Ek het my seuntjie verlede maand uitgehaal omdat hy gereeld stukkende plekke op sy lyfie gehad het en ek vermoed het iets skort,” sê die ouer.

“Ek voel nou soos ’n slegte pa omdat ek toegelaat het dat my kind so mishandel word,” het die pa van die kind in dié foto aan Netwerk24 gesê.

Thuliswa Nkabinde-Khawe, LUR vir maatskaplike ontwikkeling in Gauteng, het met skok en afgryse gereageer op die bewerings van kinders wat by die dagsorgsentrum aangerand is.

“Ons is hartseer oor die voorval en veroordeel sulke mishandeling teenoor kinders,” sê Nkabinde-Khawe.

Sy het ook belowe om die dagsorgsentrum te besoek en maatskaplike werkers na die kinders en betrokke families te stuur.

Brig. Jacob Manamela, bevelvoerder van die polisiekantoor in Randfontein, het bevestig dat drie verdagtes Donderdag in hegtenis geneem is en Vrydag in die landdroshof in Randfontein in verband met aanranding sal verskyn.

Kol. Lungelo Dlamini, polisiewoordvoerder, sê die polisie het ook op ’n hardeskyf beslag gelê en die ondersoek duur voort.

* Die kinders se identiteit word ingevolge die Kinderwet en Perskode beskerm.

“Ek het my seuntjie verlede maand uitgehaal omdat hy gereeld stukkende plekke op sy lyfie gehad het en ek vermoed het dat iets skort,” sê ’n ander ouer.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.