Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
KYK: Familie betreur ma en ouma se dood ná kaping

Die seun van die vrou wat Vrydag in ’n motorkaping in Bramley, Johannesburg, doodgeskiet is, sê sy ma was sy “superheld”.

Isabel van Coller (56) is Vrydag tydens ’n kaping by ’n verkeerslig in Johannesburg, doodgeskiet. Foto: Verskaf

“Sy is die een wat ons familie bymekaar gehou het. My pa is stukkend,” sê Arno van Coller.

Hy snik wanneer hy praat van sy ma, Isabel van Coller (56), ’n ouma van drie wat tydens ’n kaping van net 36 sekondes van hom, sy pa, Iggie, en suster ,Tania Kopke, weggeruk is.

“Ons beskerm mense vir ’n lewe en ek kon nie eens my eie ma beskerm nie,” sê Arno, ’n persoonlike lyfwag.

Isabel was om 05:24 op pad na haar werk as boekhouer by die ambulansdiens Emer-G-Med toe sy by ’n verkeerslig op die hoek van Dublin- en Cunningstraat in Bramley stilgehou het.

Sosiale mediagebruikers is met afgryse vervul oor kringtelevisie-materiaal van die voorval wat wys hoe vier mans Van Coller se voertuig omring en haar deur oopruk.

Sy is in die kop geskiet en uit haar motor geslinger deur die kapers wat met haar voertuig weggejaag het.

Van Coller se lyk is in die middel van die pad gelos.

Arno sê sy ma het elke oggend omstreeks 05:00 van Springs af gery na haar werk in Kew, Johannesburg.

Toe sy ma se werk het hom om 09:00 bel om te hoor waarom sy nie by die werk is nie, het hy ondersoek ingestel.

“Toe ek my pa bel en vra of sy by die huis is, het hy dadelik begin huil en gesê sy is seker gekaap. Ek het gesê hy moenie die bobbejaan agter die bult gaan uithaal nie.”

Arno sê hy het toe in die kar geklim en die roete begin ry wat sy ma elke oggend gery het, “want dalk het sy ’n pap wiel en haar (selfoon)battery is pap”.

Hulle kon haar aanvanklik nie uitken nie omdat sy in die kop geskiet is en die wond so erg was dat dit haar gesig vernietig het.

Emer-G-Med het hom weer gebel en gesê dat daar wel ’n voorval op sy ma se roete gebeur het.

“Hulle kon haar aanvanklik nie uitken nie omdat sy in die kop geskiet is en die wond so erg was dat dit haar gesig vernietig het. Haar dokumentasie was in die kar waarmee hulle weggejaag het. Later het hulle wel twee en twee bymekaar gesit.”

Arno moes toe sy pa en sussie van die skokgebeure inlig.

“My pa vat dit glad nie goed nie, hy is stukkend,” sê Arno. Isabel en Iggie was 35 jaar getroud.

Arno sê sy ma was ’n ongelooflike vrou, ma en ouma. “Haar kleinkinders was haar lewe. Sy het nie baie gehad nie, maar het altyd ’n skouer gehad waarop jy kon leun,” vertel hy.

Volgens kapt. Kay Makhubele, ’n Gautengse polisiewoordvoerder, is Van Coller se motor later die dag in Alexandra gevind.

“Die manier waarop dit gebeur het, was afgryslik. Hulle het die kar gelos en basies my ma se lewe gevat vir boggerôl. Ek moet dit nie eintlik sê nie, maar ons bly in ’n wettelose land,” sê Arno.

Hy voeg by dat hy egter steeds bly hoop dat daar geregtigheid vir sy ma se dood sal wees. “Die polisie het gesê hulle gaan DNS-toetse doen aangesien hulle vermoed van die verdagtes se bloed is dalk in die kar. Hulle gaan ook vir vingerafdrukke toets.”

Makhubele sê geen verdagtes is nog vir die voorval in hegtenis geneem nie.

Meer oor:  Isabel Van Coller  |  Bramley  |  Johannesburg  |  Doodgeskiet  |  Kaping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.