Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
KYK: Gewelddadige Dis-Chem-stakers vas

Die polisie het Vrydag rubberkoeëls gebruik om ’n groep gewelddadige betogers in Midrand uiteen te jaag.

13 mense is weens openbare geweld in hegtenis geneem.

Werkers verbonde aan die National Union of Public Service and Allied Workers (Nupsaw) is op ’n landwye staking weens ’n salarisdispuut met die apteekgroep Dis-Chem.

Nupsaw-lede dring aan op ’n minimum loon van R12 500 deur die bank, ’n verhoging van 12,5% vir diegene wat R12 500 en meer verdien en ’n gewaarborgde jaarlikse bonus wat gelykstaande is aan die basiese salaris.

“Die vakbond wil die bonus-beleid laat hersien. Die beleid is tans dat ’n werknemer wat ’n finale geskrewe waarskuwing ontvang, nie geregtig is op ’n jaarlikse bonus nie,” sê Ellen Bodoza, woordvoerder van Nupsaw.

“Die werkgewer (Dis-Chem) weier blatant om met Nupsaw te onderhandel.”

Solly Malema, nasionale organiseerder van die vakbond, het aan Sesona Ngqakamba van News24 gesê hulle het die looneis in Junie ingedien.

“Die werkgewer ly nie onder finansiële beperkings nie, maar sê eenvoudig omdat ons nie in meerderheid of meer as 30% is nie, kan ons nie onderhandel nie,” sê Malema.

Dis-Chem sê in ’n verklaring “ ’n klein persentasie” van sy werknemers staak, meestal in Dis-Chem se verspreidingsentrums.

“Nupsaw het ongeveer 2 000 lede in die groep. Ons raam daar was Vrydag sowat 500 lede wat by Dis-Chem se verspreidingsentrum in Midrand betoog het. Die feit dat nie alle mense betrokke by die betogings Dis-Chem-werknemers is nie, moet in ag geneem word,” sê Caryn Barker, woordvoerder van Dis-Chem.

Dis-Chem het dit duidelik gemaak dat die looneise “onredelik” is gegewe die huidige ekonomiese klimaat en dat dit ’n ernstige impak op die maatskappy se toekomstige bedrywighede sal hê.

Verhogings word jaarliks in Maart toegeken en nie lukraak op ander tye van die jaar nie.

Hoewel dit “onmoontlik” is om bonusse te waarborg en bonusse die diskresie van Dis-Chem se bestuur is, probeer die maatskappy om dit te betaal as sy prestasie en omstandighede dit toelaat.

Werknemers wat aan die staking deelneem, sal vir die duur van die staking nie geregtig wees op betaling of voordele nie.

“Die maatskappy is nie in ’n posisie om te voldoen aan Nupsaw se looneise, wat heeltemal onredelik is, nie. Dit is hartseer dat die dispuut werknemers wat die feestyd met ’n laer inkomste ingaan, gaan seermaak,” sê Barker.

Stakende werkers het vroeër Vrydag op die hoek van Le Roux-laan en die K101, by Carlswald Lifestyle-winkelsentrum en die Mall of Africa, gewelddadig geraak.

“Die betogers het by die Mall of Africa ingegaan en met ander winkels in die sentrum (se bedrywighede) ingemeng. Ons moes rubberkoeëls gebruik om hulle uit die sentrum te verwyder om sodoende ander winkels en mense te beskerm,” sê kapt. Mavela Masondo, ’n polisiewoordvoerder.

13 mense is weens openbare geweld in hegtenis geneem en sal na verwagting Maandag in die landdroshof in Midrand verskyn.

Na verneem word het leerlinge Vrydag eksamenvraestelle gemis nadat betogende Dis-Chem-werknemers paaie versper het.

Farzanah Essop Mulla het op ’n video van die staking op die Intelligence Bureau SA Facebook-groep gereageer: “My dogter het vandag (Vrydag) skool misgeloop en ’n belangrike eksamen omdat hierdie mense wat nie dink eksamen is belangrik nie, die ingang tot die skool oorkant die pad versper het.”

Dit is nie duidelik in watter omgewing Mulla woon en waar die skool geleë is nie. Netwerk24 kon Mulla nie in die hande kry nie.

Die staking word Maandag voortgesit, sê Bodoza namens Nupsaw.

Meer oor:  Nupsaw  |  Dis-Chem  |  Midrand  |  Openbare Geweld  |  Betoging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.