Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
KYK: Global-fees - 50 sake aangemeld, 15 in hegtenis

Vyftig sake is tot dusver by die polisie aangemeld nadat konsertgangers Sondagaand ná die Global Citizen Mandela 100-fees buite die FNB-stadion in Soweto beroof en besteel is.

Bheki Cele, minister van polisie, het Woensdag met joernaliste in die parlement oor die kwessie gepraat.

Genl. Bheki Cele spreek die media in die Imbizo-sentrum by die parlement toe oor die chaos wat ontstaan het na die Global Citizen-konsert Sondagaand. Foto: Jaco Marais

Talle mense is Sondagaand ná die Global Citizen-fees deur bendes jeugdiges aangeval, beroof, met messe gesteek en geslaan.

Cele het gesê nóg ses mense is weens verskeie misdade tydens die chaos ná die konsert Sondagaand in hegtenis geneem.

“Vyf het reeds in die hof verskyn. Hulle net nie borgtog gekry nie.”

Volgens Cele is  altesaam 15 mense vir misdade op die betrokke dag in hegtenis geneem.

Die klagte wissel van onder meer aanranding, diefstal, roof, gewapende roof, motorkaping, bedrog en onwettige protesoptrede.

“Ons bedank diegene wat sake by die polisie aanhangig gemaak het. Ons is nog besig met verdere ondersoek en meer verdagtes sal in hegtenis geneem word. Ons doen ’n beroep op alle polisiekantore om nie mense weg te wys wat nog sake in verband met die fees aanhangig wil maak nie.”

Cele het erken dat die chaos veral by die Sasol-vulstasie naby die stadion die polisie onkant gevang het omdat die polisie nie daarvoor beplan of dit voorsien het nie.

Genl-Maj Zephania Mkhwanazi. Foto: Jaco Marais

Hy sê daar was egter ook sowat agt veiligheidsmaatskappye wat by die fees in die stadion diens gedoen het.

“Ek weet nie waar kom die storie vandaan dat die polisie nie ’n behoorlike plan gehad het nie. Ons het deeglik beplan en ons was tot 07:00 die volgende oggend daar.”

Volgens Cele het die polisie se reëlings egter nie voorsiening gemaak vir optrede by die betrokke Sasol-vulstasie nie.

Cele het namens die polisie sy simpatie uitgespreek met slagoffers van die chaos en bygevoeg dat dit nooit moes gebeur het nie.

“Dit word ten sterkste veroordeel. Ons kan egter belowe dat alle oortreders opgespoor sal word en die volle mag van die gereg sal voel. Die polisie wil egter nie die vinger wys oor waar die fout lê nie, maar van ons kant af kan ons sê dat alle protokol gevolg en aan voldoen is.

“Die situasie is Dinsdagoggend deeglik in Pretoria ontleed. Daar is dinge wat moes gebeur het, maar wat nie gebeur het nie. Dit kon onverwags gewees het. Een daarvan was ’n totale ineenstorting om die verkeer te reguleer. Dit beteken dat die plan oor mense se bewegings vanaf die stadion as gevolg daarvan ineengestort het en dit is waarom daar by Sasol saamgedrom was.

“Polisiebeamptes was egter heeltyd op hul pos by die stadion.”

Maar, sê Cele, dit is egter die polisie se plig om alle Suid-Afrikaners te beskerm.

“Die Sasol-vulstasie is drie kilometer van die stadion af. Daar is nie voorsien dat die situasie rondom die verkeer ineen sou stort en mense dus by die vulstasie sou saamdrom nie. Ons het egter lesse daaruit geleer, veral oor die verkeerskwessie. Ons sal daarom nooit sê dit was nie ons verantwoordelikheid om mense veilig te hou nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.