Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
KYK: G’n genade vir skelms in feestyd, sê Cele

Geen stad, dorp of snelweg in die land gaan in die komende feestyd sonder padblokkades wees nie, sê Bheki Cele, minister van polisie.

Bheki Cele, minister van polisie, ontvang Donderdag die polisie se operasionale plan vir die komende feestyd by genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris. Foto: Lulama Zenzile

“As jy iemand is na wie ons op soek is, sal ons jou op die paaie vind. As jy onwettig in die land is, sal beamptes van binnelandse sake saam met ons vir jou wag,” het Cele Donderdag gesê.

Hy het gepraat by die opening van die polisie se nasionale feesseisoenveldtog in Port Elizabeth.

Honderde polisiebeamptes van oor die land heen het Cele en genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, by die NU2-Stadion in Motherwell verwelkom.

Die “skote” het ook behoorlik geklap in ’n demonstrasie van die gewapende magte waarin hulle gewys het hoe die polisie teen ’n span gewapende transitorowers optree.

Cele het dit ná die tyd benadruk dat dié rowers nie met “besemstokke en stoffers” aanval nie. Hulle is swaar gewapen en sy polisiebeamptes moet gereed wees om hul man te kan staan.

Sitole sê roof met verswarende omstandighede is een van die ses fokuspunte van die polisie se operasionele plan vir die feestyd.

“Ons fokus is op transitorooftogte, bankrooftogte en alle ander rooftogte wat hierby aansluit, asook die misdadigers wat in verband met die rooftogte gesoek word.”

Die toepassing van munisipale regulasies, klopjagte van die verkeerspolisie saam met die polisie, asook geweld teen vroue en kinders is verdere fokuspunte vir die polisie.

Op aandag salueer die polisiebeamptes Donderdagoggend die polisiehoofde in Motherwell. Foto: Lulama Zenzile
Polisiebeamptes marsjeer by die nasionale opening van die polisie se feestydoperasies. Foto: Lulama Zenzile

Cele het by Sitole aangesluit en polisiebeamptes gewaarsku dat hulle geen vrou, wat beweer sy word aangerand, mag wegwys nie.

“Geweld teen vroue en kinders word net erger. Die polisie moet sonder om té veel vrae te vra, die oortreders in hegtenis neem. Polisiebeamptes is nie onderhandelaars nie. Julle is hier om in hegtenis te neem.

“Vanjaar gaan ons vroue die beste Kersfees gee deur die mans wat hulle seer maak te verwyder.”

Cele het ook ’n beroep op polisiebeamptes gedoen om ’n hoë sigbaarheid by winkelsentrums te handhaaf sodat inkopiegangers in vrede inkopies kan doen en misdadigers geen vatkans kry nie.

Hy het afgesluit deur die “vrot appels” te waarsku dat hulle onwelkom in die polisiediens is en hul dae getel is.

Die feesseisoenklopjagte het Donderdag in die stad met verskeie padversperrings afgeskop en sal voortduur tot vroeg aanstaande jaar.

Die berede eenheid van die polisie Donderdagoggend met hul perde, wat ook gedurende die feestyd vir klopjagte gebruik sal word. Foto: Lulama Zenzile
Polisiebeamptes het tydens ’n demonstrasie Donderdagoggend gewys hoe hulle op transitorowers kan toesak om hulle in hegtenis te neem. Foto: Lulama Zenzile
“Skote” het geklap en die polisie se honde het op bevele gereageer om die vermeende transitorower in die demonstrasie aan te val. Foto: Lulama Zenzile

Meer oor:  Feestyd  |  Bheki Cele  |  Port Elizabeth  |  Polisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.