Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
KYK: Heideveld-ma sê 2 vroue wou haar kind ontvoer

’n Ma van Heideveld het ouers in Kaapstad gewaarsku teen twee vroue wat glo voorgee om kolwyntjies te verkoop, maar eintlik niksvermoedende kinders probeer ontvoer.

Die ma het in ’n video-opname, wat wyd versprei is op sosiale media, waaronder WhatsApp, gesê dat haar tweejarige dogtertjie binne ’n oogwink in die vroue se voertuig, ’n wit, BMW e-46, ingelok is.

Die ma van Heideveld wat op sosiale media beweer dat haar dogtertjie byna ontvoer is.Foto: Verskaf

Een van die vroue het haar aandag afgetrek deur die kolwyntjies teen R5 elk te verkoop terwyl die ander vrou haar op die kinders toegespits het.

“Toe ek weer kyk, het my dogtertjie op die agterste sitplek gesit en was sy glo koekies belowe en gesê dat daar ’n maatjie vir haar wag,” het die ma van vier in die video-opname gesê.

Hulle het voorgegee dat hulle van Belgraviaweg in Athlone is “en net ’n eerlike bestaan ??wou maak deur kolwyntjies te verkoop”.

“Die mense het geen genade vir ons kinders nie,” het die ma gesê.

Wat die ma die meeste ontstel het, is die manier waarop die polisie haar behandel het.

“Ek het na die polisie gegaan om hulle in te lig omdat my kind nie die enigste kind was met wie dit gebeur het nie. Die polisie het my gesê ek moet probeer kontak maak met die mense op sosiale media. Ek het meer van die polisie verwag. Ek het in die polisiestasie gehuil en die polisie het my net blatant geïgnoreer.”

Lt.kol. Andrè Traut, die Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, het gesê die ma se klagte is by die bestuur van die Manenberg-polisiekantoor aangemeld en ’n interne ondersoek word gedoen. “Sodra die verklaring van die ma verkry is, sal die omstandighede rondom die voorval ook strafregtelik ondersoek word,” het hy gesê.

Die polisie kon egter nie bevestig of daar wel voorvalle was waar mense kinders met kolwyntjies probeer lok nie.

Intussen het inwoners van Manenberg, wat anoniem wou bly, ook hul misnoeë met hul plaaslike polisie uitgespreek en gesê dat hulle (die polisie) lui en onwillig is om mense te help.

“Die klomp kan nie eens Afrikaans praat nie, alhoewel 90% van die mense in Manenberg Afrikaanssprekend is. Hulle gee niks om vir die mense nie en is bang vir die bendes. Hulle kruip weg as dis skote klap,” het een gesê.

Meer oor:  Heideveld  |  Kolwyntjies  |  Ontvoering  |  Waarskuwing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.