Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
KYK: Held vertel uit hospitaalbed oor aanval op toeriste

Eers nadat ’n barmhartige Samaritaan die aanvaller van ’n Britse egpaar platgetrek en sy wapen weggeskop het, het hy besef die bloed wat hy sien is sy eie.

Só het Rest Pemhiwa (35) Donderdag vertel van die voorval waarin hy ’n rower by Port Elizabeth se strandfront aangekeer het.

Pemhiwa het versoek dat sy gesig nie op kamera verskyn nie.

Hy is deur die rower in die heup geskiet en is in die St.George-hospitaal opgeneem.

Pemhiwa sê hy was Woensdag besig om plakkate by advertensieborde teen die straatligte op te sit, toe hy die rower te voet sien vlug.

“Daai man (rower) het nie geweet ek jaag hom nie, so ek het gesien toe hy in ’n taxi klim. Die taxi is deur ’n bakkie voorgekeer en toe kon ek by hom uitkom en die man uithaal.

Foto ter illustrasie.

“Toe ek die taxideur oopmaak, het die man skote geskiet. Ek het die skote gehoor, maar het aanhou probeer om hom op die grond te kry,” sê Pemhiwa.

Hy het die wapen uit die rower se hand probeer kry en nadat hy hom geskop het, het die rower die wapen laat val en kon hy hom oorrompel.

“Dit was eers toe die man op die grond is, wat ek sien hier is bloed op my hemp en eers daarna het ek gesien dat ek die een is wat bloei.”

Hoewel Pemhiwa nie Woensdag die pyn in sy heup gevoel het nie, het hy Donderdag gesê hy is nou beslis bewus van die pyn.

Pemhiwa, ’n Zimbabwiese burger wat sedert 2004 in die stad bly, is Donderdag deur genl.maj. Thembisile Patekile, bevelvoerder van die Mountweg-polisiegebied, besoek en as ’n held beskryf.

“Ons stad kort meer mense soos jy. Want ten spyte van die gevaarlike situasie het jy bejaarde mense gehelp, en daarvoor is ek en die hele stad vir jou dankbaar. Jy is ’n held vir ons,” sê Patekile.

Die rower kan moontlik met verskeie ander ernstige sake in die Humewood-gebied verbind word.

Pemhiwa het in reaksie gesê hy was nog nooit voorheen geskiet nie, maar hy het al ’n gewapende rower vantevore gejaag.

“In ’n vorige geval het ek ’n rower gejaag wat by my huis ingebreek het. Ek hou nie van vuurwapens nie en ek probeer maar help waar ek kan.”

Volgens Pemhiwa sal hy nog ’n paar dae in die hospitaal wees, aangesien die dokters nie onmiddellik die koeël kan verwyder nie. Blykbaar is die koeël baie diep en sal sy been dalk gebreek moet word om dit uit te haal. Hy sal later hoor wat die dokters beplan.

Die 19-jarige man wat Pemhiwa gevang het, sal Vrydag in die hof verskyn op aanklagte van poging tot moord en gewapende roof.

Meer oor:  Rest Pemhiwa  |  Pe  |  Strand  |  Heldedaad  |  Rooftog  |  Toeriste  |  Held
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.