Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
KYK: Help om dié treinbrand-verdagtes te identifiseer

Die perronne waar die treine by die Kaapstad-spoorwegstasie staan, is tjoepstil. Dis vroegoggend op Donderdag, 28 November.

Daar is niemand in sig op die kringtelevisiebeelde nie. Dan verskyn twee mans. Die een het ’n plastiekbottel met deurskynende vloeistof in sy hand. Hy is geklee in ’n ligte broek, ’n swart baadjie en ’n pienk serp wat gedeeltelik oor sy kop en sy gesig gebind is.

Die ander man is in ’n ligte broek en swart kappietop met swart, wit en rooi voor geklee.

Op die kringtelevisiebeelde kan gesien word hoe die man met die serp die plastiekbottel vir sy makker gee. Hy draai om en loop na een van die kompartemente van die trein wat by die perron staan.

Hy dwing die deur van die kompartement oop en gaan die trein binne. Sy makker draai om en loop dieselfde kompartement binne. Sekondes later hardloop hulle uit – die koeldrankbottel waarin die deurskynende vloeistof was, nog in die een met die swart kappietop se hande.

Hierdie man word deur die polisie en Metrorail gesoek in verband met die brand wat 18 treinwaens op Donderdag 29 November op die Kaapstadse-spoorwegstasie vernietig het. Foto: Verskaf

Hierdie twee mans word nou deur die polisie en Metrorail gesoek in verband met die 18 Metrorail-treinwaens wat op dié stasie uitgebrand is en grootskaalse ontwrigting vir Kaapse pendelaars veroorsaak het.

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het kort ná die voorval gesê vier moontlike verdagtes is op kringtelevisiemateriaal gesien en ná die brand geïdentifiseer.

Riana Scott, ’n Metrorail-woordvoerder, het Sondag gesê dat hul vloot nou uit tussen 38 en 42 treine bestaan. “Die vereiste is 88 treine om die huidige rooster te kan bedien,” het sy gesê.

Scott het gesê die verlies van kapasiteit is nie net weens die brande nie, maar ook weens vandalisme.

Die man met die pienk serp om sy gesig word deur die polisie en Metrorail gesoek in verband met die brand wat 18 treinwaens op Donderdag 29 November op die Kaapstadse-spoorwegstasie vernietig het. Foto: Verskaf

Metrorail se Wes-Kaapse hoof, Richard Walker, het gesê die skade van die 18 treinwaens wat vernietig is, beloop sowat R61 miljoen.

Dit sluit die oorhoofse kabels wat beskadig is uit. Dít beloop sowat R154 000.

Die brande het ook veroorsaak dat 14 van die Kaapstad-stasie se 24 perronne nie gebruik kan word nie.

Walker het gesê dit is hartseer om te sien hoe gemeenskappe wat van bekostigbare openbare vervoer afhanklik is, gestroop word van hul mobiliteit en dit voor die feesseisoen.

“Broodwinners wat gespaar het vir onder meer skoolbehoeftes volgende jaar, gaan nou gedwing word om van die geld te gebruik op ander alternatiewe vervoermetodes.”

Hy het gesê hulle werk saam met die polisie en het die hulp van die gemeenskap gevra om die twee mans op die foto’s en kringtelevisiemateriaal te help identifiseer.

’n Beloning van R100 000 is uitgereik vir inligting wat kan lei tot ’n suksesvolle arrestasie en vervolging.

* Mense met inligting kan die ondersoekbeampte, sers. Riaan Williams by 078 037 5969 bel.

Meer oor:  Metrorail  |  Fikile Mbalula  |  Kaapstad-Stasie  |  Brandstigting  |  Treine
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.