Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
KYK: Inbrekers dra huis in Plattekloof leeg

’n Egpaar van Plattekloof, Kaapstad, is die josie in vir die polisie nadat hulle oor die naweek twee mans wat vermoedelik by hul huis ingebreek het, sonder enige ondersoek vrygelaat het.

Johan Kleyn, ’n afgetrede brigadier in die polisie, en sy vrou, Riana, was die naweek van 1 Februarie in St. Helenabaai aan die Weskus.

Die Vrydagaand het ’n man wat ’n ouerige Corsa-bakkie bestuur, by hul huis ingebreek.

Die man het op Vrydag 2 Februarie twee keer in minder as sewe uur by ’n huis in Plattekloof, Kaapstad, ingebreek.

Die inbraak was tussen 21:00 en 21:30. Die man is deur die bure se kringtelevisiekameras afgeneem waar hy met onder meer televisiestelle en ander artikels by die Kleyn-egpaar se huis uitloop en buite hul hek op sy wegkom-voertuig, die Corsa-bakkie, wag.

’n Bietjie meer as ses uur nadat die man die eerste keer by die Kleyn-egpaar se huis ingebreek het, keer hy vroegdag op Saterdag 2 Februarie terug en sit sy strooptog voort.

Hy word weer op die bure se kringtelevisiekameras afgeneem.

In die twee inbrake is meer as R300 000 se goedere gesteel.

Die inbreker dra een van die televisiestelle wat gesteel is, na buite.

Bure van Kleyn het hom op Vrydag 8 Februarie gekontak nadat hulle ’n bakkie en ’n man wat aan die beskrywing van die inbreker op die video’s voldoen, in hul buurt gewaar het.

Kleyn en sy seun Rihan het in hul bakkies geklim en na Keurboomstraat, Plattekloof, gery waar die bakkie gesien is.

“Daar was niemand in die bakkie nie en ons het daar naby stelling ingeneem. Twee mans het amper ’n uur nadat ons naby die Corsa-bakkie gaan staan het, na die voertuig geloop. Ek het nader gery, langs die bakkie geparkeer en die bestuurder gevra of ons gou oor iets kan praat. Hy het met ’n stink spoed daar weggetrek. Ek moes ’n u-draai maak, maar my seun het onmiddellik agter die bakkie aangery.” Hulle het die Corsa-bakkie ná ’n kort jaagtog vasgekeer.

“Ons het hulle gevra wat hulle in ons buurt gesoek het, maar hulle kon ons nie antwoord nie.”

Die inbreker met ’n televisiestel onder die arm.

Kleyn sê hoewel die man wat die vorige naweek by hul huis ingebreek het, se gesig nie duidelik op die video’s is nie, stem sy liggaamsbou ooreen met dié van die man wat hulle aangekeer het, sy baadjie is dieselfde soort en die Corsa-bakkie het dieselfde vergrote uitlaatpyp.

“Ons het die plaaslike buurtwag en die polisie gekontak. Die buurtwag was baie behulpsaam. ’n Polisieman van die Bothasig-polisie wou egter nie eens na ons verduideliking luister en hoekom ons die mans aangekeer het nie. Hy het gesê omdat ons in Plattekloof woon en die inbraak by die Parow-polisiekantoor aangemeld is, gaan die mans soontoe geneem word.”

Die Corsa-bakkie waarmee die inbreker die gesteelde goedere weggery het.
Johan Kleyn en sy seun Rihan sê die man wat hulle aangekeer het, het dieselfde soort baadjie aangehad as die inbreker wat op kringtelevisie afgeneem is.

By die Parow-polisiekantoor het ’n sersant en ’n polisiekaptein wat aan diens was, volgens Kleyn nie eens na die video’s wat aan hulle gegee is, gekyk nie.

Die vrouekaptein het die twee mans onmiddellik vrygelaat en vir sy seun gesê daar is nie genoegsame bewyse nie.

“Ek het haar self telefonies gekontak en gevra om die mans se vingerafdrukke te neem sodat dit vergelyk kan word met vingerafdrukke wat by my huis gekry is. Ek weet nie eens of dit gedoen is nie,” het Kleyn gesê.

Navrae oor die voorval is na die polisie gestuur. Netwerk24 wag op kommentaar.

Dié mans is volgens Johan Kleyn en sy seun Rihan heel waarskynlik die inbrekers wat sy huis van R300 000 se goedere gestroop het. Die polisie het hulle vrygelaat nadat Kleyn hulle aangekeer het.
Meer oor:  Plattekloof  |  Kaapstad  |  Misdaad  |  Inbrekers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.