Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
KYK: Kind sterf weens koeël: ‘Hoekom?’ vra ma

“Ons ken hom, ons ken die man wat my kind doodgeskiet het. Ek wil hom net vra hoekom?”

Inshaaf Kelly (27) en haar man, Jonathan Arendse, sê die regstelsel laat hulle in die steek. Foto: Maygene de Wee

Dit was Woensdag die woorde van Inshaaf Kelly (27), ma van Ayesha Kelly (10), wat Sondagaand deur ’n koeël uit die vuurwapen van ’n vermeende lid van die Hard Livings-bende in Tafelsig, Mitchells Plain, doodgeskiet is.

Ayesha is Dinsdag ingevolge die Moslem-geloof begrawe.

“Ons kon nie eens my kind in vrede begrawe nie. Ons moes haar lyk voor die afgesproke tyd uit die huis laat gaan omdat die gangsters Dinsdag ook nog hier geskiet het.”

Kelly sê sy was nog self ’n kind toe sy Ayesha verwag het en sy was bitter lief vir haar oudste kind. Sy het nog twee kinders uit haar huwelik met Jonathan Arendse.

Kelly het Woensdag gesê dat sy, haar man, haar ma en nog familielede die oggend na die hof is om te hoor wat aangaan. Die beskuldigde, een van twee mans wat Sondagaand kort ná die voorval in hegtenis geneem is, het in camera in die hof verskyn.

Kelly sê die staatsaanklaer het ná die tyd terwyl hulle buite die hof gewag het vir hulle kom sê dat die man se saak tot 23 Januarie vir verdere ondersoek uitgestel is.

Sy sê die staatsaanklaer het vir hulle gesê daar moet ook nog ’n uitkenningsparade gehou word.

“Ons voel egter dat die regstelsel ons in die steek laat. Niemand kom praat met ons oor die ondersoek nie.”

Ayesha Kelly (10). Foto: Verskaf

Ayesha is in haar rug getref, waarna die koeël deur haar liggaam beweeg en in haar long vasgesit het.

Haar ma sê sy is op die toneel dood.

Ayesha was saam met vriende op pad na ’n huiswinkel in Oudekloofstraat, Tafelsig. Die huiswinkel is ’n hanetree van haar ouerhuis.

Kelly sê sy was in die straat besig om met iemand te praat toe mense haar roep en sê haar kind is geskiet. “Toe ek by haar kom het sy nog geleef. Sy wou praat, maar daar het niks uitgekom nie.”

Meer oor:  Hard Livings-Bende  |  Mitchells Plain  |  Tafelsig  |  Doodgeskiet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.