Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Moord op ma, seun: Beloning aangebied vir inligting

’n Gebroke Faan Botha (68) het laat Saterdagaand, nadat die polisie die moordtoneel in sy sitkamer ondersoek het, by sy vrou se voete gaan staan en haar gegroet.

Anne-Marie Botha (64) se seun, Ruan Britz (31), het nog oor haar gelê soos hy tot die dood toe saam met sy ma teen die aanvallers op Croc Valley Farm buite Mbombela (Nelspruit) baklei het.

Jaap Breed, Faan se neef, het gesê die polisie was daardie aand tot laat op die toneel en wou niemand in die huis toelaat nie.

“Maar Faan wou tot siens sê. Hy het die polisie gevra of hy kans kan kry as hulle klaar is. Ons het heelaand daar gewag. Elfuur toe roep hulle ons.

“Faan het by Anne-Marie se voete gaan staan. Sy het nog net so gelê soos toe Faan hulle gekry het. Toe groet hy.

“Dit is tragies. Hy is gebroke,” het Breed gesê.

Faan Botha luister koponderstebo na die troosboodskap terwyl sy dogters aan weerskante van hom staan. Foto: Skermgreep

Botha, ’n onderwyseres, en haar serebraal gestremde seun is Saterdag omstreeks 18:00 aangeval terwyl Faan, ’n plaasbestuurder, patrollie gaan doen het juis omdat daar die vorige aand iemand was wat die elektriese heining om die huis geknip en onder meer die grassnyer gesteel het.

Faan het die heining reggemaak, slotte vervang en vroegaand gery om seker te maak dat alles veilig is.

Toe hy tuiskom, het ’n toneel hom begroet wat duidelik gewys het hoe Botha en haar seun om hul lewens geveg het. Meubels asook snoekerstokke, waarmee Botha vermoedelik die aanvallers probeer afweer het, het stukkend op die toneel gelê.

Beloning aangebied

'n Beloning van tot en met R100 000 word aangebied vir inligting wat sal lei tot die arrestasie en suksesvolle vervolging van die verdagtes. Mense met inligting, of wat wil bydra tot die fonds, kan Albert Gryvenstein van die veiligheidsgroep Bossies Community Justice bel by 082 567 5212.

Die aanvallers het die ma en seun vermoedelik met ’n voorwerp doodgeslaan. Luidens verskeie bronne het Botha ook steekwonde gehad.

Albert Gryvenstein van die veiligheidsgroep Bossies Community Justice beskryf dit as een van die wreedste tonele wat hy nog gesien het.

Volgens Breed het ’n groot groep mense Maandag by die plaashek bymekaargekom toe hy daar verbygery het. Hulle het kranse gelê en ’n predikant het ’n paar woorde gesê.

“Dit was ’n groot opkoms deur ’n gemeenskap wat samehorigheid wou toon.”

Groot, bebaarde manne het met bossies helder blomme geluister terwyl ds. Gert McDonald vertel het hoe ’n besonderse mens Botha was.

Ds. Gert McDonald sit sy arm vertroostend om Faan Botha. Foto: Skermgreep

“Dít wat hier gebeur het, is onverstaanbaar, onverklaarbaar. ’n Mens stoei daarmee in jou gedagtes en soek antwoorde. Niks maak sin nie,” het hy almal se denke verwoord.

Faan het tussen die mense gestaan, met van sy dogters en ander familielede weerskante van hom wat hul arms om mekaar gehad het. Die snikke was gedemp, maar soms het die seer harder uitgeglip.

McDonald het gesê toe hy gedink het wat om te sê het Psalm 130 die heel tyd by hom opgekom:

Uit die dieptes roep ek na U, Here,

Luister tog na my, Here,

Hoor tog my hulpgeroep.

“Dit is dalk wat ons vandag moet sê: Here, die ding verstaan ons nie. Kry asseblief vir ons antwoorde, Vader.”

McDonald het bygevoeg dat almal sê dat daar vergelding moet wees, maar gesê as so ’n gedagte by ’n mens opkom, moet jy soos in Ps. 130 uit die dieptes na die Here moet roep.

“Met al die vrae – gaan net na die Here en vra: Here, help ons om uit hierdie sinlose daad, hierdie sinlose ding wat gebeur het, net te probeer sin maak.”

Dít wat hier gebeur het, is onverstaanbaar, onverklaarbaar. ’n Mens stoei daarmee in jou gedagtes en soek antwoorde. Niks maak sin nie.

Die plaashuis is Sondag skoongemaak, maar volgens Breed was die reuk van bloed nog opvallend.

“Daardie kenmerkende reuk wat soos yster ruik – jy kan dit nie mis nie. Dit slaan jou asem deur die reuk van die ontsmettingsmiddel weg.

“Ek dink nie Faan sal na die huis terugkeer nie. Hy sê dit is te erg daar.”

Breed se eie seun, Jan, het agt jaar by “tannie Anne-Marie” loseer toe hy in Mbombela gewerk het.

“Sy was ’n tweede ma vir hom,” het Breed sag gesê.

Terwyl die gemeenskap en geliefdes rou, soek die polisie en Gryvenstein-hulle onverpoos na die aanvallers.

Daar word nie veel geslaap nie, het Gryvenstein erken.

“Die polisie het ’n baie bekwame ondersoekspan aangestel. Ons het al in die verlede baie suksesvol met hulle saamgewerk.”

• ’n Roudiens word Donderdag om 10:00 vir Botha en haar seun in die Nederduitsch Hervormde kerk Nelspruit in Belladonnastraat gehou.

Anne-Marie Botha en haar seun, Ruan Britz (31) wat in hul plaashuis vermoor is. Foto: Facebook
Van die blomme wat die gemeenskap Maandag by die plaashek vir die vermoorde Anne-Marie Botha en haar seun, Ruan Britz, neergelê het. Foto: Jaap Breed
Faan Botha met sy dogters en familielede aan weerskante van hom in die groep mense wat blomme by die plaashek neergesit het. Foto: Skermgreep

Meer oor:  Plaasmoorde  |  Anne-Marie Botha
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.