Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
KYK: ‘Mamma, ek is geskiet’, student vertel
Magda Geldenhuys sê dis net God se genade dat die rower se koeël nie groot skade aangerig het nie. Foto: Felix Dlangamanda

"Mamma, ek is geskiet, ek is oukei.”

Magda Geldenhuys, ’n student aan die Noordwes-Universiteit (NWU), het haar ma Sondagoggend omstreeks 03:00 met dié woorde wakker gebel.

’n Rower het die 21-jarige Magda minute tevore buite haar woonstel in Potchefstroom geskiet. Sy het wonderbaarlik sonder ernstige beserings oorleef.

Magda se ma, Lizelle Geldenhuys, het Dinsdagoggend vertel die gebeure voel nog onwerklik.

“Ek het groot geskrik toe sy my bel. Ek het dadelik in my motor geklim en Potchefstroom toe gery.”

Geldenhuys het die rit vanaf haar plaas naby Modimolle (Nylstroom) in Limpopo na Potchefstroom binne enkele ure afgelê. Toe sy douvoordag by die Potchefstroom Mediclinic se ongevalleafdeling aankom, het Magda gehuil van die pyn en baie gebloei. Die koeël is by haar regterheup in en by haar laerug net bo haar linkerboud uit.

“Ek kan getuig van God se genade dat die koeël geen belangrike strukture getref het nie en net die spiere beseer het,” het Magda Dinsdagoggend vertel nadat sy die vorige aand uit die hospitaal ontslaan is.

Die plek op Magda Geldenhuys se regterheup waar die koeël in is. Foto: Felix Dlangamandla

“Die rower het aanvanklik vir my gesig gemik, maar God het Sy hand oor my gehou. Dis ook ’n wonderwerk dat die koeël nie binne-in my versplinter het nie. By die hospitaal het die heel koeël net so uit my klere geval.”

Magda vertel sy en ’n vriendin, Monique Fourie, was Sondag tot in die vroeë oggendure by ’n kuierplek.

“Ons het by die kompleks waar ek woon, se hek ingery en gestop. ’n Man het skielik langs die kar gestaan. Hy het ’n vuurwapen na my gesig gemik. Ek het vir Monique gesê sy moet kalm bly en vir die man gevra wat hy wil hê.

Toe sê ek vir die rower ons het nie fone nie en vra hom toe of hy ons beursies wil hê. Hy het kwaad geword en geskiet.

“Hy het gesê hy soek selfone, maar ek het nie myne by my gehad nie. Monique was verbouereerd en kon hare ook nie kry nie. Toe sê ek vir die rower ons het nie fone nie en vra hom toe of hy ons beursies wil hê. Hy het kwaad geword en geskiet.”

Magda het geen pyn gevoel nie.

“Ek het net die rook van die vuurwapen gesien en gevoel hoe my liggaam ruk. Ek het eers gedink ek is dalk nie raakgeskiet nie, maar toe ek agter my rug voel, was my hand vol bloed.”

Die rower wat Magda geskiet het en sy makkers het toe weggehardloop sonder om enigiets te steel.

“Ek dink daar was drie. Monique het net so met my in die kar hospitaal toe gejaag. Eers toe ek daar uitklim, het ek pyn begin voel. My bene het meegegee.”

Magda Geldenhuys by die parkeerplek naby haar studentewoonstel waar die rower haar en ’n vriendin oorval het net nadat hulle daar gestop het.Foto: Felix Dlangamandla

Magda se wonde is later die oggend onder narkose skoon gemaak en met steke geheg. Toe sy wakker word van die narkose, was sy gedisoriënteerd weens die sterk pynmedikasie.

“My pa, Pierre, was ook daar van Kroonstad. Ek het die woord ‘swanger’ gehoor en gevra: ‘Is ek swanger?’, ‘Is Mamma swanger?’,” het Magda Dinsdag in ligter luim vertel.

Sy sê sy wil ander mense maan om versigtig te wees.

“Ek is ontsettend geskok dat die rower my sonder enige rede net geskiet het, al het ons ons samewerking gegee.”

Magda moet nou vir sowat ’n week rus voordat sy haar honneurstudies in berading kan voortsit. Sy verduur steeds pyn en loop moeilik.

Ao. Mpho Manyobe, polisiewoordvoerder in Potchefstroom, het Dinsdagmiddag gesê die polisie ondersoek die rooftog, maar niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Meer oor:  Potchefstroom  |  Geskiet  |  Aanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.