Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
SKOKVIDEO: Durbanville-winkelier met mes deur gesig gekap

“As jy iemand so hoor skree, kan jy dit nie ignoreer nie.”

Só sê Werner Raal (45) wat verlede Donderdag ’n winkeleienaar van Durbanville gehelp het toe ’n vermeende rower hom met ’n lang mes in die gesig gekap het.

’n Skermgreep van die video net voor die aanval plaasgevind het.
Raal het ’n video van die voorval op Facebook gedeel, wat wys hoe ’n aanvaller in ’n gestreepte hemp by die winkel in Durbanville se hoofstraat instap, na die eienaar toe loop en hom dadelik met ’n reuse-mes, amper soos ’n panga, slaan.

Die hou tref die eienaar in die gesig, waarna hy begin skree en smeek vir sy lewe. Die eienaar sak dan op die grond neer onder die toonbank en die aanvaller gooi goed in ’n sak.

Raal sê hy het mense buite die winkel sien staan toe hy hoor hoe die winkeleienaar skree.

“Dit was ’n hartverskeurende, desperate geluid. Ek sou nooit weer kon slaap as ek nie daarop gereageer het nie,” sê Raal.

“Ek het bietjie opleiding in martial arts, en het toe besluit ek moet help. Ek het ingestap en met die aanvaller begin praat, terwyl die bloed reeds van die winkeleienaar se kop afgestroom het,” sê Raal, oorspronklik van Oudtshoorn.

“En die aanvaller het die vermetelheid om vir my te sê: ‘Ek is nou klaar meneer.’ Ek het om my gekyk en die enigste ding wat ek as ’n wapen kon gebruik, was ’n metaalrakkie op die tafel.”

In die video kan gesien word hoe Raal die aanvaller waarsku, waarna hy die rakkie optel en die aanvaller op die rug slaan om hom sover te kry om die winkeleienaar te los.

Die aanvaller het ook sy mes verloor.

As jy mooi kyk, kan jy sien hoe die aanvaller die winkeleienaar se oor byt nadat dit byna heeltemal afgekap is.
“Die ou se baklei raak toe bietjie op en hy besluit toe om te vlug. As daar bietjie meer plek in die winkel was, het ek hom dalk bietjie beter gewys wat ek kan doen,” vertel Raal.

Die winkeleienaar, wie se naam steeds onbekend is, het diep snymerke opgedoen tydens die struweling en byna sy regteroor verloor.

“As jy mooi kyk, kan jy sien hoe die aanvaller die winkeleienaar se oor byt nadat dit byna heeltemal afgekap is. Die aanvaller wou die eienaar tydens die struweling seker so seer as moontlik gemaak het.”

Die aanvaller het gevlug en paramedici van ’n plaaslike veiligheidsmaatskappy het na die winkeleienaar omgesien. Raal het skaars enige wonde opgedoen.

“Ek het later verneem hoe dit met die eienaar gaan en gehoor hy is in die hospitaal. Ek sal graag vir hom wil gaan kuier,” sê Raal.

Die video van die aanval is wyd op sosiale media gedeel en byna 50 000 keer gekyk. Talle gebruikers het kommentaar gelewer en gesê Raal is ’n held.

“Ek wil deur niemand as ’n held gesien word nie, behalwe deur my seun (13) en my dogter (17). As ek vir hulle ’n rolmodel kan wees, is ek gelukkig.”

Raal sê hy is dankbaar vir die kalmte wat hy van Bo gekry het en dat hy ’n positiewe daad kon verrig.

Meer oor:  Werner Raal  |  Durbanville  |  Winkelier  |  Panga  |  Aanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.