Die Sinoville-polisie het Dinsdag ’n man vasgetrek wat glo in Desember by ’n druk besige tolhek-plaza in Pretoria skote in die lug afgevuur het.
Sy inhegtenisneming kom nadat twee video’s van die voorval by die Doornpoort-plaza op die N4-pad noord van Pretoria versprei is.
In die video staan ’n man met ’n vuurwapen in sy regterhand wat na bo gestrek is.
Om hom staan die voertuie bankvas om deur die tolhek te beweeg.
Die man laat sak sy kop en vuur ’n skoot in die lug af.
Mense in ’n voertuig, vermoedelik dié wat hom afneem, begin te dreunsing: “Jou ma se p***, jou ma se p***.”

Die 54-jarige man staan tussen voertuie by die Doornpoort-tolhek en skiet verskeie skote in die lug. Foto: Skermgreep van video
Die gewapende man kyk nie links of regs nie, maar skiet nog ’n skoot, wag ’n paar sekondes en skiet dan nog ’n klomp skote ná mekaar.
In ’n tweede video stap hy na ’n voertuig langs die pad, vermoedelik sy eie, steeds sonder om rond te kyk.
Dan draai hy op sy hakke om, rig die wapen met albei hande op die singende mense en korrel.
Die dreunsang verander na benoude gille en die video eindig.
Ao. Johan van Dyk, polisiewoordvoerder, sê die Sinoville-polisie het die voorval, wat glo net voor 14:00 op Sondag 20 Desember plaasgevind het, begin ondersoek nadat hulle daarvan bewus geword het.
Hoewel die motief nog nie bevestig is nie, blyk dit dat die skieter se frustrasie met die stadig bewegende verkeer dalk tot die skietery gelei het.
“Twee lede van die Sinoville-speurders se opsporingspan, ao. Riaan Booysen en ao. Duppie du Pisani, het inligting opgevolg en die verdagte geïdentifiseer en opgespoor.
“Die 54-jarige man is Dinsdag met die bystand van lede van die eenheid vir openbare orde in hegtenis geneem.

Nadat hy skote in die lug geskiet het, stap die man na die kant van die pad, draai om en rig die vuurwapen op iemand. Foto: Skermgreep van video
“Tydens die ondersoek is nege ongelisensieerde wapens in sy besit gevind. Ses hiervan was in ’n stoor en een wapen met ammunisie is in die verdagte se voertuig gevind.
“Twee ander vuurwapens wat vroeër in verband met ’n ander voorval by die polisie ingehandig is, is ook met die verdagte verbind,” het Van Dyk gesê.
Hy het bygevoeg dat die ander voorval, waarin op twee van die man se wapens beslag gelê is, was ’n paar dae voor die tolhek-skietery.
“Luidens inligting het die verdagte vroeër in Desember glo onder die invloed van drank by die Montana-hospitaal-opgedaag. Hy het glo geskree en gevloek, en geweier om te gaan, waarna die polisie ontbied is.
“’n Wapen is aan hom gevind en ’n ander een is in sy voertuig gekry. Beslag is gelê op die wapens en die polisie was besig met ’n ondersoek na sy bevoegdheid om wapens te besit toe die man met die tolhek-skietery verbind is,” het Van Dyk gesê.
Die verdagte is tans in aanhouding en sal later die week in die hof verskyn op aanklagte van die afvuur van ’n vuurwapen in die openbaar, die onwettige besit van vuurwapens en moontlik ook die rig van ’n vuurwapen.
• Al nege die wapens is vir ballistiese toetse gestuur.

Van die wapens wat in die verdagte se besit gevind is. Foto: Verskaf