Ná ’n ondersoek van twee dekades, het die Hollandse polisie uiteindelik 'n man vasgetrek wat vermoedelik ’n 11-jarige seuntjie in dié land vermoor het.
Reuters berig die 55-jarige man, Jos Brech, is in Spanje, ongeveer 50 km noord van Barcelona, opgespoor.
Die seuntjie, Nicky Verstappen, se lyk is op 10 Augustus 1998 naby ’n kampeerterrein in Nederlandse platteland gevind. Hy is reeds die vorige nag as vermis aangemeld.
Nederlandse speurders het die DNS op Verstappen se liggaam en klere gebruik om die vermeende moordenaar op te spoor.
Brech se familie het hom in April vanjaar as vermis aangemeld. Die polisie het daarna DNS-monsters van hom gekry in ’n poging om hom op te spoor.
In dié proses het die speurders egter besef Brech se DNS stem ooreen met die DNS wat op Verstappen se liggaam en klere gevind is.
Die Hollandse polisie het verlede week die man se volle naam en foto bekend gemaak in ’n poging om hom op te spoor.

Jos Brech. Foto: Nederlandse polisie

Nicky Verstappen. Foto: Nederlandse polisie

Jos Brech word in hegtenis geneem. Foto: Spaanse polisie
"Die Spaanse polisie kon hom in hegtenis neem, nadat iemand die man van die foto herken het," het die Hollandse staatsaanklaer, Jan Eland, gesê.
Brech het Maandag in die hof in Spanje verskyn en gaan binnekort aan Nederland uitgelewer word om verder vervolg te word.
Deur die loop van die ondersoek van 20 jaar het die Hollandse polisie verskeie mense verkeerdelik vir die moord in hegtenis geneem. Dit blyk ook nou die polisie het Brech slegs 'n paar dae na die moord baie naby aan die moordtoneel ondervra, maar hy is toe nooit as 'n verdagte beskou nie. – Reuters