Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
KYK: Minder sterf op plase, maar meer aanvalle

Daar is gemiddeld 1,04 plaasmoorde per week, 1,2 plaasaanvalle per dag en drie aanvallers per plaasaanval.

’n Ontleding deur AfriForum se gemeenskapsveiligheidsafdeling het bevind dat daar tydens 2018 nagenoeg 433 plaasaanvalle en 54 plaasmoorde was.

Al was daar in 2018 ’n afname in plaasmoorde in die land, was daar ’n skerp styging in plaasaanvalle.

Ernst Roets, adjunkhoof van AfriForum, en Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, bespreek die 2018-plaasaanvalle op ’n mediakonferensie Dinsdag in Centurion.Foto: Deaan Vivier

Dit dui volgens Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, daarop dat mense beter na hul veiligheid omsien en hulself beter verdedig.

In 2017 was daar 342 plaasaanvalle en 72 plaasmoorde.

AfriForum het Dinsdag op ’n mediakonferensie in Centurion sy bevindinge bekend gemaak.

“Jy kom nie maklik daaroor nie. Ek soek my man steeds,” sê Marianne Schoeman (69) wat haar man, Dries, in Junie 2017 in ’n plaasaanval verloor het.

“Dit is ’n vermorsing van lewens en so onnodig,” sê sy oor AfriForum se jongste syfers.

Arcolane Doce het vir Dries en Marianne op die plaas Schoongezicht tussen Waterval-Boven en Machadodorp in Mpumalanga aangeval.

Ernst Roets, adjunkhoof van AfriForum, sê die organisasie gaan sy veldtog teen plaasmoorde vanjaar met verskeie aksies verskerp.Foto: Deaan Vivier

Marianne vertel Doce het ongeveer 18 maande lank vir hulle gewerk op die plaas, waar hulle op daardie stadium met hoenders geboer het.

Hy het sowat ’n maand voor die aanval “verdwyn” en toe teruggekom om hulle aan te val.

Die egpaar is oorval en met draad aan ’n paal vasgebind. Hulle is verskeie kere met ’n hoekyster aangerand. Hulle is net daar vasgebind gelaat.

Hulle is eers die volgende oggend gevind. Dries is ’n paar dae later weens sy beserings dood, terwyl Marianne bloeding op die brein opgedoen het.

Die egpaar was byna 50 jaar getroud.

Doce is in September verlede jaar in die hooggeregshof op Mbombela tot lewenslange tronkstraf gevonnis.

Marianne sê sy het hom vergewe, maar dat sy soms nog kwaad raak.

Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheidFoto: Deaan Vivier

“Ek is alleen en gaan nooit saam met iemand uit nie. Dis nie lekker nie,” sê sy.

Sy bly sedertdien die aanval nie meer op die plaas nie, maar by haar dogter, Rita Pieterse, in Waterval-Boven.

Sy was al ’n paar keer terug plaas toe, maar dan kom al die emosies en herinneringe skielik terug.

Marianne sê die plaas was haar en Dries se vier Pieterse-kleinseuns (Francois, André, Frandré en Franco) se lewens, maar dat hulle ook glad nie meer soontoe wil gaan nie.

Sy sê plaasaanvalle boesem ’n vrees in by gemeenskappe en die land as geheel.

Ernst Roets, uitvoerende adjunkhoof van AfriForum, sê die organisasie gaan sy veldtog teen plaasmoorde vanjaar met verskeie aksies verskerp.

Dit sluit stappe op plaaslike, nasionale en internasionale vlak in.

Die aksieplan teen plaasmoorde vir 2019 behels die volgende:

* ’n Plaasveiligheidsoudit sal onder AfriForum se lede gedoen word om die risiko van plaasaanvalle te verminder.

* Hy wil sy bestaande veiligheidstrukture versterk deur dit meer doeltreffend te maak en groter samewerking tussen veiligheidstrukture te bewerkstellig.

* Die Wilmien Potgieter-fonds om kinders wie se lewe deur ’n plaasaanval geraak is, finansieel te help, word op 1 Februarie begin. Wilmien (2) en haar ouers, Attie en Wilna, is op 1 Februarie 2010 in ’n plaasaanval in die Vrystaat vermoor.

* Hy wil ’n voorlegging in die parlement lewer oor die impak van plaasmoorde en stappe wat die regering kan doen om dit aan te pak.

* ’n Toer na Amerika word beplan. AfriForum sal die Amerikaanse Elie Wiesel-wet vir die voorkoming van volksmoord en wreedhede bestudeer om sy saak met behulp daarvan te stel. Roets se boek Kill the Boer sal in Washington D.C. bekend gestel word. Mariandra Heunis, wie se man in 2016 voor haar en een van haar kinders vermoor is, sal die besoek meemaak om slagoffers van plaasaanvalle te verteenwoordig.

Genl. Chris van Zyl, adjunk-hoofbestuurder van TLU SA, sê sy 2018 plaasmoordsyfer stem ooreen met dié van AfriForum s’n, maar dat hy meer plaasaanvalle (ongeveer 480) geregistreer het.

“In hierdie verband sluit plaasaanvalle geweldsmisdaad (onder meer moord, verkragting en aanranding) in wat op ’n plaas en kleinhoewe gebeur. Diefstal is nie by hierdie definisie ingesluit nie,” sê Van Zyl.

Tommie Esterhuyse, voorsitter van Agri SA se landelike veiligheidkomitee, sê AfriForum se statistieke kan moontlik in die kol wees.

TLU SA werk ook saam met die polisie om dié aanvalle te bekamp.

“Dit is belangrik om die voorval te verifieer deur ’n naam, datum en plek, sowel as ’n saaknommer – indien moontlik – te kry,” sê Van Zyl.

Volgens hom trek die wreedheid van die misdaad baie aandag.

“Mense word doelbewus gemartel – dit is ’n hoogs emosionele saak. As jy na die volhoubaarheid en winsgewendheid van die boerdery kyk, het diefstal op die plaas ’n direkte invloed op dit.”

Van Zyl sê daar is sedert 2011 ’n daling in die plaasmoordsyfer, maar dit word nie gewoonlik weerspieël in die plaasaanvalsyfer nie.

“Die getal is steeds groot,” sê hy en voeg by dat plaasaanvalle sedert 1998 as ’n prioriteitsmisdaad geklassifiseer is.

Tommie Esterhuyse, voorsitter van Agri SA se landelike veiligheidkomitee, sê AfriForum se statistieke kan moontlik in die kol wees.

Hy betwyfel egter glad nie die feit dat plaaswerkers deur een uit elke tien plaasaanvalle geraak word of selfs die teiken is van die aanval nie, soos deur AfriForum bevind.

“In samewerking met die polisie kan alle groepe (georganiseerde landboustrukture en private veiligheid) bydra tot beter beheer van plaasaanvalle,” sê Esterhuyse.

Hoewel plaasaanvalle ’n uitwerking kan hê op jong boere, het hy uit sy ervaring te doen met “gemotiveerde en gedrewe” boere.

“Hulle skakel in by die strukture om te help,” sê Esterhuyse.

Grafika24
Meer oor:  Afriforum  |  Ernst Roets  |  Ian Cameron  |  Plaasaanvalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.