’n Motoris in Muizenberg het Dinsdag so in die ry ’n jaagtog tussen die polisie en vermeende kapers afgeneem en die polisie geesdriftig aangemoedig.
Hierin kan gesien word hoe lede van die polisie se honde-eenheid in Kaapstad en ander polisiebeamptes drie vermeende kapers in Boyesweg aan die bokant van Muizenberg aankeer.
Die video, wat later op sosiale media gedeel is, is vermoedelik deur ’n lid van die publiek geneem. Dit wys die jaagtog tussen die polisie en ’n wit bakkie.
Die man gee sy blydskap in sterk taal te kenne wanneer die bakkie in die jaagtog rol en toe tot stilstand kom.
Die volgende oomblik omring gewapende polisielede die bakkie.

’n Polisiehond kry een van die verdagtes beet. Foto: Skermgreep

Polisiebeamptes neem die vermeende kapers in hegtenis Foto: Skermgreep
Kol. Andrè Traut, polisiewoordvoerder, het die voorval by navraag bevestig. Hy sê die polisie het drie mans in hegtenis geneem. Die voertuig is vroeër in Grassy Park gekaap.
Volgens Traut is een van die verdagtes in die ongeluk tydens die jaagtog beseer. Die ander twee is beseer toe hulle van die polisie-honde probeer vlug het.
Hulle sal na verwagting Woensdag in die landdroshof in Muizenberg verskyn.