Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
KYK: ‘Ontspan asseblief terwyl rowers skiet’
Een van die twee transitovoertuie wat op Atlasweg in Boksburg onder ’n groep rowers deurgeloop het. Foto: Felix Dlangamandla

Vyf rowers is in hegtenis geneem nadat hulle Donderdagoggend twee geldwaens helder oordag by ’n verkeerslig in Boksburg aan die Oos-Rand met plofstof oopgeblaas het.

’n Forensiese ondersoeker van die polisie merk die ligging van ’n koeëldoppie ná ’n transitorooftog in Boksburg. Minstens 50 skote kan gehoor word op een van die video’s wat omstanders geneem het. Foto: Felix Dlangamandla
Die plofslag het die geldwa se dak en agterdeure oopgeruk. Omstanders het beskryf hoe die geld oor die pad gestrooi gelê het. Foto: Felix Dlangamandla

Ooggetuies vertel hoe die rowers om 09:30 op motoriste losgebrand het. Die rowers het op die hoeke van die kruising by Atlasweg gaan staan en byna 10 minute lank geskiet. Dit terwyl hul medepligtiges die twee geldwaens van die sekuriteitsmaatskappy G4S in Atlasweg beroof het.

“Ek kon nie glo wat gebeur nie. Die karre het probeer omdraai en wegjaag. Ek kon sien hoe skiet die rowers op hulle,” sê Galeen Naidoo, ’n rekenmeester by Renault-Oos-Rand.

Sy het uit dié gebou ’n selfoonvideo van die rooftog geneem. “Kollegas het geskreeu ek moet gaan plat lê op die vloer, maar ek wou die video neem omdat dit dalk die polisie kon help.”

Kapt. Lungelo Dlamini, polisiewoordvoerder, sê twee sekuriteitswagte van G4S is beseer - een is in die been geskiet en die ander een het kopbeserings opgedoen. Ineke van Huyssteen, woordvoerder van ER24, sê die paramedici het agt mense na die hospitaal geneem. Die aard en omvang van almal se beserings is nog nie bekend nie.

JP Coetzee, voorsitter van die Eloff-buurtwag in Johannesburg, sê dit is danksy een van sy buurtwaglede dat vyf van die rowers in die George Gogh-hostel in Denver, naby die Johannesburgse middestad vasgetrek is. Hy wou nie die buurtwaglid se naam noem nie.

“Die lid was naby die kruising toe hy die skote gehoor het. Toe hy daar aankom het hy net betyds gesien hoe die rowers in die karre klim en wegjaag,” sê Coetzee.

Die lid het die polisie in kennis gestel en die rowers op die N12 agterna gesit. Die rowers het in ’n Landrover, ’n Audi en ’n rooi Corolla met ’n onbekende bedrag geld gevlug.

“Die rowers het drie keer op ons buurtwaglid geskiet terwyl hy hulle teen ’n hoë spoed agterna gesit het,” sê Coetzee.

Die buurtwaglid is nie beseer nie. Die rowers het van die M2 na Denver afgedraai en by die hostel ingehardloop. Die polisie en die Valke was gou daar.

Kapt. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, sê ’n helikopter is ook gebruik om die verdagtes vas te trek. Hy sê daar is nog ander verdagtes wat voortvlugtend is. Die polisie het op die rowers se drie voertuie en van die gesteelde geld beslag gelê.

’n Woordvoerder van G4S, het die voorval bevestig, maar het nie verder uitgewei nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.