Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
KYK: Polisieman klap, rig wapen ná kroegman sy vinger byt

’n Polisiebeampte van Brandfort in die Vrystaat het ’n kroegman na bewering geklap en met sy vuurwapen gedreig nadat die man hom glo in ’n onderonsie in ’n kroeg aan die vinger gebyt het.

JP van Vuuren (38), die kroegman by Koffies Pub, is Sondagoggend in hegtenis geneem op ’n aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Die voorval het Saterdagaand omstreeks 21:00 in die kroeg in Voortrekkerstraat gebeur.

’n Video van die voorval wys hoe die twee mans aan mekaar ruk en pluk en die polisieman, met sy vinger in Van Vuuren se gesig, sê: “Moet my nie vir ’n gat vat nie, nè.”

Van Vuuren byt glo die polisieman se vinger waarna die polisieman hom na bewering met die ander hand klap en dadelik sy vuurwapen uithaal en dit oorhaal.

Hy rig sy wapen op Van Vuuren terwyl hy agteruit beweeg. Van Vuuren, met ’n mes in die hand, volg hom. Twee ander mans kom dan by en boender hom uit die kroeg.

Carla Botha, kroegeienaar, sê sy oorweeg nou regstappe teen die polisie.

Die Koffies Pub op Brandfort waar ’n polisieman na bewering die kroegman geklap het omdat dié hom glo aan die vinger gebyt het. Foto: Verskaf

Volgens haar en Van Vuuren was die polisie op roetinebesoek by die kroeg toe die bakleiery gebeur het. Van Vuuren het soos altyd vir hulle ’n koeldrank aangebied.

Brig. Motantsi Makhele, provinsiale polisiewoordvoerder, sê egter die voorval het buite in die straat begin toe twee polisielede ’n dronkbestuurder in hegtenis wou neem.

“Twee mans het uit die kroeg gehardloop en die beamptes aangerand. Dit is nie op die video te sien nie. Een van die mans is aangekeer en die ander een het in die kroeg ingehardloop en die beampte is agterna.

“Toe die beampte hom in hegtenis wou neem, het hy hom teëgesit en ’n mes uitgehaal. Die lid het hom daarna glo met ’n oop hand geklap,” het Makhele gesê.

Van Vuuren het voor sy inhegtenisname gesê die konstabel het hom rondgeruk en sy vinger vyf keer in sy gesig gedruk.

“Ek het vir hom gesê as hy weer sy vinger in my gesig druk, gaan ek dit afbyt. Toe doen hy dit weer en toe byt ek hom. Hy het my daarna geklap en dadelik sy pistool uitgehaal, die wapen oorgehaal en dit in my gesig gedruk. “Ek het my sakmes uitgehaal, ek weet nie hoekom nie en wat dit sou doen teen ’n vuurwapen nie,” het Van Vuuren gesê.

Pieter Theron het ’n hou agter sy oor gekry toe hy Saterdagaand na bewering deur polisielede aangerand is. Foto: Verskaf

Volgens hom is ’n ander man van iets in die sestig wat hom kom help het, ook aangerand en later in hegtenis geneem.

Botha het gesê sy het die kroeg ’n halfuur later gesluit nadat die polisie hul voertuie voor die perseel kom parkeer het.

Pieter Theron is vol merke nadat hy Saterdagaand na bewering deur polisiebeamptes aangerand is. Foto: Verskaf

“Daar was die naweek motorfietsryers by die kroeg en daar is gebraai. Daar was kinders ook by die braai. Kliënte wat in die kroeg was en wou help, is ook aangerand,” het sy gesê.

Volgens haar het sy gesien hoe ’n groep polisielede die ouer man met ’n besemstok in die polisiekantoor se perseel aangerand.

“Hulle vang my werknemer omdat hy vir homself opgestaan het, maar die polisieman wat hom geklap en almal met ’n vuurwapen gedreig het, loop vry rond.

“Daar word vir ons gesê ons moet wag vir ’n interne ondersoek. Ek kan nie ’n verklaring aflê nie en moet wag tot Maandag. Dit lyk of die polisie het al die mag het. Waar trek jy die streep? Hoe stuur ek my kinders na die polisiekantoor toe as daar moeilikheid is? Hoe vertrou ’n mens hulle?”

Sy gaan ’n geldinsameling hou om Van Vuuren en Pieter Theron, een van die omstanders wat wou help, se regskoste te betaal, het Botha gesê.

Makhele sê ’n klag van die besit van gevaarlike wapen word ook ondersoek omdat Van Vuuren glo ’n mes by hom gehad het.

“Die vrou is gesê dat sy nie namens die verdagte ’n saak kon maak nie. Hy moet dit self doen. As enige van die mense op die video aangerand is of sleg behandel is deur die polisiebeamptes, is hulle vry om ’n klag te lê of dit aan te meld by die stasiebevelvoerder.

“Ons sien enige aanval op ’n polisielid as ernstig, veral as beamptes besig is om hul take te verrig. As mense video’s wil neem van soortgelyke voorvalle, moet hulle dit van die begin af neem en nie net dele waarvan hulle hou nie, want sommige kere word die waarheid verdraai,” sê Makhele.

Meer oor:  Brandfort  |  Vrystaat  |  Polisieman
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.