Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
KYK: Rowers oorval paartjie terwyl hulle aanlyn speel

Hulle was diep in ’n aanlyn speletjie gewikkel toe Sterna Lewis (37) en haar kêrel in hul huis in Centurion deur drie gewapende mans oorval en beroof is.

’n Ander speler, wat saam met hulle in ’n kompleks in Amberfield woon, het onraad vermoed en die veiligheidsdienste ontbied net voordat die drie mans vermoedelik met Lewis se kar van die toneel wou vlug.

Sterna Lewis en Mario Engelbrecht is Vrydagaand beroof terwyl hulle besig was om speletjies aanlyn te speel. Die hele voorval is op kamera vasgelê.

“Om eerlik te wees kon hulle vat net wat hulle wil, maar ’n mens kan nie ’n lewe vervang nie. Dit kon soveel erger gewees het,” sê Lewis oor die voorval wat sy en Mario Engelbrecht, haar kêrel, en haar twee seuns Vrydagaand moes deurmaak.

Dit het nog Sondag deur haar gedagtes gemaal toe sy met Netwerk24 gepraat het.

Sy en Engelbrecht was omstreeks 23:00 in hul buitekamer wat hulle in ’n studeerkamer omskep het, besig om die speletjie Call Of Duty aanlyn te speel.

Lewis se twee seuns, onderskeidelik 9 en 12 jaar oud, was in die huis en het televisie in hul kamers gekyk.

“Ek het oorfone aangehad en was besig om te stroom toe hulle (die mans) by die deur inkom. Die een het my oorfone afgeruk en vir ons gesê om op die vloer te lê en kalm te bly.”

Mario Engelbrecht
Mario Engelbrecht is deur die rowers gedwing om op die vloer te lê. Foto: Skermgreep

Sy het vir haar kinders se lewe gevrees, maar die rowers het hulle verseker dat hulle niks sou oorkom as die gesin net kalm bly nie.

Die rowers het die kinders uit hul kamers gaan haal en na Lewis en Engelbrecht toe gebring.

“My oudste het aanvanklik gedink ons is dood omdat ons koponderstebo op die vloer gelê het. Hy het geskree: ‘Wat het jy gedoen?’ maar ek het hom toe rustig gemaak.”

Lewis sê die rowers het hul hande en voete met hul eie skoenveters vasgebind.

sterna lewis
Sterna Lewis tydens die rooftog. Foto: Skermgreep

Hulle het ook die draad van haar oorfone geknip en Engelbrecht se hande en voete daarmee vasgebind en ’n swart lap oor sy kop gegooi.

“Dit het gevoel soos ’n toneel uit die flieks en ek was seker hulle gaan hom skiet.”

Intussen het ’n vriend wat saam met Engelbrecht aan die speletjie deelgeneem het, besef sy karakter staan stil.

Die vriend het die paartjie probeer bel en besef daar is fout toe hy nie antwoord kry nie.

Hy het die kompleks se veiligheidspersoneel na die toneel ontbied en die rowers het oor die muur gevlug.

Lewis sê die tydsverloop op haar speletjie het gewys die rowers was sowat 20 minute in die huis.

In die tyd het hulle die paartjie se elektronika, soos televisies, in Lewis se kar gelaai waarmee hulle van plan was om te vlug.

Hulle het met drie selfone en vier slimhorlosies weggekom.

Die hele voorval is op Lewis se kamera op haar rekenaar, wat weens die aanlyn speletjie aangeskakel was, vasgelê.

Dit het gevoel soos ’n toneel uit die flieks en ek was seker hulle gaan hom skiet.
rower, centurion
Die hele voorval is op Sterna Lewis se kamera op haar rekenaar vasgelê, met die gesig van een van die rowers duidelik sigbaar. Foto: Skermgreep

Volgens haar is hul gesigte ook op kamera’s in die motorhuis vasgelê.

Lewis sê sy is dankbaar dat sy en haar gesin, ondanks die trauma, ongedeerd is.

Volgens hulle is ’n saak by die polisie aanhangig gemaak, maar dit kon teen druktyd nog nie bevestig word nie.

Meer oor:  Centurion
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.