Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
KYK: Só haak skelms skaars woonwa en ry

Die woonwa in Angola.

Nic Theron (65) van Pretoria se gesteelde woonwa is meer as net dit – vir hom is die woonwa soos familie en baie na aan die hart.

Theron se 2006-model B’Rakhah-woonwa het al vir hom en sy vrou, Dorothy, op verskeie avonture geneem met die mooiste herinneringe landwyd en in Afrika.

Die woonwa is al vir 14 jaar deel van die egpaar se lewe en is oor die jare in iets uniek getransformeer om hul reise te vergemaklik. Dit is hul huis op wiele waarmee hulle ongeveer vier keer ’n jaar die pad gevat en al derduisende kilometer afgelê het.

Nic Theron en sy vrou, Dorothy, in Angola.

Maar hierdie skaars woonwa is Sondag op ’n sakeperseel in Moreletapark gesteel waar Theron se onderneming, Nationwide Marketing, geleë is.

Sy werknemers het dit die volgende oggend opgemerk toe hulle daar opdaag en het hom in kennis gestel.

Sy gholfkarretjie en ’n ander persoon se sleepwa met twee motorfietse daarop is ook gesteel.

Die hele voorval is op beeldmateriaal vasgevang.

Nic Theron en sy vriend Cobus Dippenaar op die gholfbaan. Agter hulle is Theron se gholfkarretjie wat ook gesteel is. Een besonderse kenmerk is die voorwiele wat kleiner as normaal is.

Twee mense het omstreeks 15:00 doodluiters met ’n Ford Ranger-bakkie buite die perseel stilgehou en die motorhek oopgedwing. Daarna het hulle die woonwa aan die bakkie gehaak en uitgery.

Hulle het sowat drie uur later teruggekeer met dieselfde bakkie en nog ’n voertuig, en die gholfkarretjie en die sleepwa met die motorfietse daarop gehaak en weggery.

Theron het Maandagoggend vroeg besef iets is fout toe hy ’n aantal oproepe van sy werknemers op sy selfoon misgeloop het, en het teruggebel.

“Die laaste ding in my gedagtes was dat dit só iets is – ek het gedink daar was ’n inbraak,” sê hy.

Nic Theron se 2006-model B’Rakhah-woonwa wat hy oor die jare verander het.

“Ek was moedeloos oor die woonwa wat gesteel is. Die gholfkarretjie is ’n verlies, maar ek besit die woonwa al vir 14 jaar.

“Dis ’n woonwa met geweldige geskiedenis vir my en my vrou. Ons is deel van ’n vriendekring wat oor Afrika met die woonwaens toer.”

Die egpaar en hul woonwa was al in Angola, Malawi, Mosambiek, Zimbabwe, Swaziland en Lesotho.

“Ons is waarskynlik die eerste groep Suid-Afrikaners wat so drie jaar gelede met woonwaens deur Angola getoer het.”

Nic Theron en sy woonwa (in die middel) saam met vriende in die Richtersveld.

Wat sy woonwa spesiaal maak, is dat Theron al verskeie veranderinge daarop laat aanbring het.

Dit sluit in ’n uitslaanbadkamer met ’n stort en warm water. Die woonwa se kamerdeel is ook vergroot met ’n uitslaandak.

“Die woonwa is dus enig in sy soort.”

Nic Theron en sy woonwa (regs) in die Richtersveld.

Volgens hom is die finansiële verlies van die woonwa net ’n bysaak, terwyl die herinneringe onvervangbaar is.

“Ons het die wonderlikste tye met daai woonwa gehad. Ek sal nooit ’n ander een wil hê nie.

“Dit voel asof ’n deel van my weggeruk is.”

Nog geen van die gesteelde items is teruggevind nie.

Die eienaar van die sleepwa en motorfietse het intussen ´n oproep ontvang van ’n kwansuise polisielid wat hierdie items “opgespoor” het. Daar is egter vasgestel dat dit ’n slenter is toe die persoon R1 500 daarvoor wou hê, sê Theron.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.