Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
KYK: Só het sluipmoord op Ernie ‘Lastag’ ontvou

Dis Vrydag kort ná 08:00 en mistig in Boksburg.

In ’n video wat Vrydagmiddag op sosiale media versprei is, kan ’n wit BMW in Rondebultrylaan naby die Kingfirsherlaan-afrit gesien word.

Die 62-jarige Ernie “Lastag” Solomon, vermeende leier van die Terrible Josters- en 28-bende en die man wat algemeen as die Wes-Kaap se perlemoensmokkelbaas beskou is, is agter die stuur van die wit BMW. Saam met hom is die ma van een van sy kinders.

Dié peutermeisie van amper twee jaar oud is in ’n bruin karstoeltjie agter in die motor. Nog ’n man, glo Solomon se lyfwag, is ook in die BMW wat uit Reigerpark, ’n woonbuurt in Boksburg, ry.

Dis 08:14:17 en op die video kan gesien word hoe ’n wit Ford Ranger-bakkie voor die wit BMW onverwags remme aanslaan. Dit veroorsaak dat die BMW agter in die bakkie vasry.

Sekondes later hou ’n silwer Ford EcoSport langs die wit BMW stil.

Die wit BMW waarin Ernie “Lastag” Solomon doodgeskiet word, is regs op die foto sigbaar. Die wit Ford Ranger-bakkie het voor sy kar gerem en ’n botsing veroorsaak. Foto: Skermgreep
Regs op die foto is die silwer Ford EcoSport wat langs die wit BMW stilgehou het. Die skieters het uit die voertuig geklim en vermoedelik met AK-47’s op die BMW se insittendes losgebrand. Foto: Skermgreep

Skote begin onmiddellik klap. In ’n deel van die video kan kortliks gesien word hoe twee mans buite die EcoSport staan en op die BMW en sy insittendes skiet.

Die voertuig waarin ’n kamera gemonteer is wat die video opneem, ry weg terwyl die bestuurder hardop wonder: “Wat de f** was dit?”

Kort sarsies skote, meer as 40, is nog hoorbaar. Die skieters en die insittendes van die Ford Ranger-bakkie het in die EcoSport van die toneel gevlug.

Solomon is op die toneel dood verklaar. Die tweejarige meisie is twee keer getref – een keer in die maag en een keer in die boud. Sy lyfwag en die vrou saam met hulle in die voertuig is ook ernstig gewond.

Charl van der Merwe van Graphite-veiligheidsdienste het bevestig dat ’n man (Solomon) op die toneel dood verklaar is, en dat nog ’n man, ’n vrou en ’n babameisie gewond is.

Personeel van die Graphite-veiligheidsdienste jaag met die gewonde baba wat in die voertuig was na ’n nabygeleë hospitaal. Foto: Verskaf

Twee van Graphite se veiligheidswagte was eerste op die toneel en het met die klein meisie in hul voertuig na ’n nabygeleë hospitaal gejaag. Van der Merwe sê die meisie is stabiel en intussen na ’n ander hospitaal oorgeplaas. Die man en die vrou is albei per helikopter na Gautengse hospitale vervoer. Hulle is glo ernstig beseer.

Daar was in Mei vanjaar ook in Hawston in die Overstrand ’n aanslag op Solomon en sy seun Carlo se lewens. Solomon is toe vyf keer getref en Carlo drie keer.

Carlo was Vrydagmiddag op pad na Gauteng en is glo “verpletterd” deur sy pa se dood.

Kapt. Kay Makubele, polisiewoordvoerder het die voorval bevestig.

Hy het gesê die motief vir die aanval is nog onbekend. Mense met inligting kan die polisie by hul naaste polisiekantoor kontak of die Stop Misdaadnommer by 0860 010 111 skakel.

Die wit BMW waarin Ernie “Lastag” Solomon doodgeskiet is. Die BMW se lugsakke het in die voorval ontplooi. Foto: Verskaf
Ernie (Lastag) Solomon, vermeende bende- en perlemoensmokkelbaas van Hawston in die Overstrand is Vrydag in Boksburg aan die Oos-Rand in ‘n sluipmoordaanval doodgeskiet. Foto: Verskaf

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.