Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
KYK: Transitorowers se bom kilometers ver gehoor

Die polisie het beslag gelê op vyf voertuie wat moontlik gebruik is tydens die transitorooftog Donderdag in Rustenburg waartydens ’n rower doodgeskiet en vyf polisielede gewond is.

Kol. Brenda Muridili, polisiewoordvoerder, het Vrydagoggend gesê die voertuie is in die omgewing van die Tlhabane-township naby Rustenburg gevind. “Niemand is nog in hegtenis geneem nie.”

Volgens Muridili is die vyf polisielede wat in die spervuur beland het, nie een in lewensgevaar nie. “Dit gaan (onder die omstandighede) goed met hulle.”

Intussen het kapt. Tlangelani Rikhotso, Valke-woordvoerder in Noordwes, bevestig dié eenheid neem nou die ondersoek oor.

Die drama het hom laat Donderdagmiddag in Rustenburg afgespeel nadat die polisie inligting oor ’n transitorooftog in Geelhoutpark ontvang het. Muridili het ná die gebeure in ’n mediaverklaring gesê toe die polisie in Watsoniastraat kom, het hulle op die rooftog afgekom. Die rowers het op die polisie geskiet en die polisie het teruggeskiet. ’n Onbekende getal verdagtes het toe in hul wegkommotors gespring en weggery.

Die toneel van die transitorooftog Donderdag in Rustenburg, met die brandende geldwa in die agtergrond. Foto: Rustenburg Herald/Facebook

“Die polisie het hulle gevolg tot by die Tlhabane-winkelsentrum, waar nóg ’n skietery plaasgevind het,” sê Muridili. “Dis tydens dié skietery wat vyf lede van die Rustenburgse blitspatrollie en die honde-eenheid gewond, en een rower doodgeskiet is.”

Twee veiligheidswagte is ook op die toneel van die rooftog beseer. Al die beseerdes is na ’n hospitaal in die omgewing geneem.

Christelle van Rooyen, bestuurder van die Noordwes-koerantgroep wat die Rustenburg Herald insluit, sê inwoners kon die ontploffing kilometers ver hoor nadat die rowers die geldwa met springstof opgeplaas het. Die polisie was hulle egter een voor en hulle kon nie met ’n sent van die geld daarin wegkom nie. Die brandweer is na die toneel om die vlamme by die brandende geldwa te blus.

“Die polisie in Noordwes het ná die rooftog ’n 72-uur-plan in werking gestel om seker te maak alle rolspelers ondersoek die saak en help om die rowers wat gevlug het, vas te trek,” sê Muridili.

• Enigiemand met inligting oor die rooftog wat tot verdere inhegtenisnames kan lei, kan die polisie se teenmisdaadlyn op 08600 10111 bel of wenke na die MySAPS-selfoontoepassing stuur. Wenke kan anoniem gegee word.

Die transitorowers het die geldwa Donderdag in Rustenburg met springstof opgeblaas, maar kon nie ’n sent buit nie. Foto: Rustenburg Herald/Facebook

Meer oor:  Rustenburg  |  Noordwes  |  Transito-Rooftog  |  Transito
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.