Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
KYK: Veiligheid verskerp na jong dokter byna verkrag is

Van die planne om die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein veiliger te maak, is reeds op koers nadat ’n jong vroulike dokter wat haar internskap doen aangeval en byna verkrag is.

Dr. David Motau, hoof van die Vrystaatse gesondheidsdepartement, het Donderdag ’n groep betogende dokters voor die hospitaal toegespreek.

Motau sê die jong intern wou al Donderdag teruggekeer werk toe, maar hy het haar aangesê om eers die tyd te gebruik om te herstel.

“Sy doen baie goed. Sy was reg om werk toe te kom. Ek het vir haar gesê sy moet nie kom nie, sy het tyd nodig. Sy moet deur daai proses gaan,” sê Motau.

Dr. David Motau, hoof van die Vrystaatse gesondheidsdepartement, luister Donderdag na dokters se griewe buite die Pelonomi-hospitaal, waar ’n intern-dokter vroeër aangeval en byna verkrag is. Foto: André Damons
Dr. David Motau, hoof van die Vrystaatse gesondheidsdepartement, beantwoord Donderdag gegriefde dokters se vrae buite die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein. Foto: André Damons

Netwerk24 verneem die 24-jarige intern, wat ’n deel van haar aanvaller se tong afgebyt het, sal Vrydag terugkeer.

Dit kom nadat sy Dinsdagaand om 23:50 in die roepkamer op die eerste verdieping van die hospitaal deur ’n man, wat nie ’n pasiënt is nie, aangeval en byna verkrag is.

Die intern het terugbaklei en ’n deel van die man se tong afgebyt, waarna hy gevlug het. Die 30-jarige man is kort ná die voorval in die Nasionale Hospitaal, waar hy op behandeling gewag het, aangekeer. Hy is steeds onder polisiebewaking in die hospitaal.

Motau het met die besorgde dokters oor die veiligheidsituasie in hospitale gepraat.

Hy net ná die tyd aan die media gesê hy het ’n noodvergadering met al sy senior bestuurslede gehad en het vir hulle streng opdragte gegee oor die pad vorentoe.

“Ons moet seker maak ons doen ’n deeglike ondersoek oor die veiligheid by die hospitaal. Ons het ’n medium- en langtermynplan en ons gaan die eerste deel onmiddellik in werking stel.

“Ek het gesê ek soek ’n verslag teen Maandag oor hoe ons van die kwessies kan hanteer, soos onder meer paniekknoppies en die ontplooiing van veiligheidswagte.”

Dr. David Motau, hoof van die Vrystaatse gesondheidsdepartement, is Donderdagoggend omring deur betogende dokters wat vrees vir hul veiligheid nadat ’n kollega in die Pelonomi-hospitaal byna verkrag is.Foto: André Damons
Die betogende dokter se protes-boodskap lui dat sy te bang is om te help. Dit kom nadat ’n intern-dokter by die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein byna verkrag is. Foto: André Damons

Volgens hom is die Pelonomi-hospitaal se ligging (dit is tussen Heidedal en die Bochabela-township) en die verskeie ingange ’n probleem. Van die ingange gaan nou toegemaak word en ander gaan strenger beman word.

Daar gaan ook gekyk word na kameras wat beman word en opgeleide en gekwalifiseerde veiligheidswagte wat nie misdaadrekords het nie.

“Ons moet seker maak dat dokters wat hier werk veilig is en beskerm word. Die hospitaal is donker, ons moet ligte aanbring. Klein dingetjies wat breek, moet dadelik reggemaak word,” sê hy.

“Ons vra om verskoning vir die voorval. Dit is jammer dit word nou gedoen nadat so iets gebeur het. Ek ondersteun ons dokters. Ek is ook ’n dokter en wat met hulle gebeur het, kon met my of my geliefde in ons tyd ook gebeur het,” sê hy.

’n Interndokter by Pelonomi sê die roepkamer se veiligheidshek is Woensdag binne twee uur reggemaak.

“Ons kla al amper ’n jaar oor die hek en Woensdag word dit vinnig reggemaak. Hoekom moes iets soos hierdie voorval eers gebeur het voordat hulle dit regmaak? Ons weet egter steeds nie hoe veilig ons is nie.”

Jong dokters betoog Donderdag voor die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein nadat ’n kollega byna verkrag is. Foto: André Damons
Betogende dokters staan Donderdag voor die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein en luister na dr. David Motau, hoof van die Vrystaatse gesondheidsdepartement. Foto: André Damons
Meer oor:  Pelonomi-Hospitaal  |  Bloemfontein  |  Misdaad  |  Verkragting  |  Dokter  |  Veiligheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.