Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
KYK: Verskerpte polisie-optrede teen bendes in PE dra vrug

Die polisie in Port Elizabeth het 119 mense vir bendeverwante misdade in hegtenis geneem en R500 000 se dwelms gekonfiskeer sedert Bheki Cele, minister van polisie, die stad op 3 Desember besoek het.

Cele het belowe ’n spesiale bende-eenheid sal vanjaar in Port Elizabeth op die been gebring word.

Die polisie slaan toe op vermeende dwelmposte in Port Elizabeth se bendegeteisterde gebiede in Helenvale. Huise is vir wapens en dwelms deursoek. Foto: Cara-Lee Dorfling

Lt.genl. Liziwe Ntshinga, die Oos-Kaap se polisiekommissaris, het enkele dae ná Cele se besoek lede van die nasionale intervensie-eenheid in die stad ontplooi om die voortslepende bendegeweld in bedwang te probeer bring. Die polisie spits sy aandag nou op die noordelike stadsgebiede toe om bendes daar hok te slaan.

In ’n tydperk van ses maande het bendegeweld verlede jaar die lewe van 78 mense geëis, waarvan verskeie onskuldige omstanders was. Die skote klap daagliks in die bendeoorlog om grondgebied te verower, wapens in te palm en met dwelms handel te dryf.

Donderdag het verskeie eenhede van die polisie ’n padblokkade in Helenvale by die berugte Gaat gehou, waar elke motor en insittende deur polisielede ondersoek is.

Brig. Tembinkosi Kinana, Ntshinga se woordvoerder, sê dié soort sigbare optrede van die polisie word nou daagliks in die noordelike gebiede gesien.

“Ons doen daagliks ’n ontleding van ons statistieke en tree daarvolgens op. Die fokus is veral op Helenvale, wat een van ons brandpunte is,” sê Kinana.

Konst. Jacques Botha praat Donderdag met Elaine Petrus om te verduidelik hoekom die polisie weer haar huis deursoek. Foto: Cara-Lee Dorfling

Donderdag het die polisie op twee huise in Voisinweg en Blesbokstraat toegesak met ’n lasbrief om die huise te deursoek. Swaar gewapende polisielede het voor die deure van die huise gestaan, terwyl polisielede met handskoene en hul opgeleide polisiehonde die huise binne fynkam.

“Die soektog is vir wapens en dwelms. Dit is bekende dwelmposte wat ons deursoek,” sê Kinana.

Maar Johanna Veldtman, eienaar van die huis in Blesbokstraat wat deursoek is, sê sy is “keelvol” en “hoogs geïrriteerd” met die polisie wat haar huis al ses keer sedert Kersfees “kom omkeer het”. Elke keer het hulle met leë hande weggestap, sê Veldtman.

“Ek weet nie wie hulle op my spoor sit nie, maar hier is niks. Hulle glo kamstig hier word gunne en drugs weggesteek, maar ek verkoop net ga-ga (bierbrousel) hier – maar hulle bly hier kom soek,” sê Veldtman.

As deel van die polisie se poging om bendegeweld in Port Elizabeth se noordelike gebied te bekamp, word padblokkades elke dag in die gebied gehou. Foto: Cara-Lee Dorfling

Hoewel die polisie ook niks by Elaine Petrus se huis in Voisinweg gevind het nie, het sy die polisie se optrede verwelkom.

“Die mense skiet elke dag hier. Ons waardeer hulle ondersteuning. Ek verstaan ook die polisie doen net hul werk, maar plaas hulle gaan soek die regte bendelede. Hier is niks, hulle kom soek verniet die heeltyd hier.”

Sy sê die polisie het haar huis al vyf keer sonder enige sukses deursoek.

Die polisie kordon Donderdag die gebied in Gelvandale af waar die bestuurder van die wit Volkswagen Polo met ’n onwettige vuurwapen in sy besit betrap is. Foto: Cara-Lee Dorfling

“Dit raak soms ’n bietjie moeilik, want ek is ’n kerkmens. Dit is ’n verleentheid as die ander kerkgangers sien hoe die polisie hier in en uit is. En vir die mense wat my huis die heeltyd by die polisie aangegee, vir hulle bid ek net.”

Kinana sê die polisie reageer op inligting.

“Ons sal aanhou terugkeer, solank as wat die inligting inkom.”

Die polisie het wel later die dag, reg voor die Gelvandale-polisiekantoor, ’n man vir die onwettige besit van ’n vuurwapen in hegtenis geneem.

Meer oor:  Bheki Cele  |  Port Elizabeth  |  Misdaad  |  Bendes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.