Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Kyk: Video glo nét na voorval by Dros geneem

’n Video (onderaan die berig) wat na bewering geneem is net ná die voorval by die Dros Silverton, waar ’n sewejarige meisie glo deur ’n 20-jarige man verkrag is, is besig om die ronde op sosiale media te doen.

Weens die kru taalgebruik in dié video het Netwerk24 besluit om die klankbaan weg te laat. Die vermeende verkragter se identiteit kan nie tans bekend gemaak word nie, omdat hy nog nie amptelik gepleit het nie.

Die betrokke beeldmateriaal mag sensitiewe kykers ontstel.

’n Vriend van die man het intussen aan Netwerk24 gesê hy was geskok toe hy op sosiale media van die voorval lees.

Dié vriend, wat tans in Amerika is, het Donderdag met Netwerk24 gesels op die voorwaarde dat hy anoniem bly. Volgens die vriend ken hy die vermeende verkragter al ’n paar jaar en het hom deur gemeenskaplike vriende leer ken.

“Ons het saam rugby en krieket gespeel en saam gaan ysskaats. Ons was nie elke dag in mekaar se geselskap nie, maar het wel saam gekuier,” sê die vriend.

“Ek was rêrig baie geskok gewees toe ek dit gesien het.”

Ek was rêrig baie geskok gewees toe ek dit gesien het.

Volgens hom kon hy nie glo wat hy lees nie.

Die beweerde verkragting het glo Saterdag in ’n toilethokkie in die Silverton Dros-restaurant in Pretoria se vrouebadkamer plaasgevind.

Nadat die meisie se ma en ander mense op die man afgekom het, het die vermeende verkragter hom na bewering teëgesit en ’n bakleiery het gevolg, het ’n ingeligte gesê.

Die man is later in die mansbadkamer aangehou totdat die polisie opgedaag en hom in hegtenis geneem het.

Intussen het mense woedend gereageer nadat die identiteit van die sogenaamde Dros-verkragter wyd op Facebook versprei is.

Facebook-gebruikers het die hoop uitgespreek dat die man nooit weer vrygelaat word nie.

“ . . . het jy enige idee van die skade wat jy aangerig het aan daai klein mens, jou common dier?” lui een van die boodskappe onder die inskrywing waarin die man geïdentifiseer word.

. . . het jy enige idee van die skade wat jy aangerig het aan daai klein mens, jou common dier?

Sommige inskrywings beskryf hoe hy vermoor sal word as hy vrygelaat word.

Die vermeende verkragter het reeds Dinsdag in die landdroshof in Pretoria verskyn op aanklag van verkragting, die besit van dwelms, intimidasie en aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Hy sal in aanhouding bly tot 2 Oktober met sy volgende hofverskyning.

Lede van die #NotInMyName-beweging het Donderdag die restaurant besoek en ook aangedui dat hulle daar sal wees met die man se volgende hofverskyning.

Themba Masango, sekretaris van die beweging, sê hulle was omgekrap oor die “ongeërgde” wyse waarop Dros na die voorval in ’n verklaring verwys het.

Tydens hul vergadering met die restaurant se bestuur het Dros sy ondersteuning aan die meisie en haar familie opnuut bevestig.

Die restaurant het ook onderneem om die veiligheidsmaatreëls in die speelplek daadwerklik te verskerp.

Intussen het die voorval die aandag getrek van oorsese media met die BBC en CNN wat daaroor berig het.

Plaaslik het politici hulle ook sterk uitgespreek oor die beweerde voorval.

Mandisa Masego, leier van die EFF in Gauteng, sê die party gaan volgende week ’n bykomende klag van poging tot moord teen die verdagte aanhangig maak en vra dat die man nie borgtog moet kry nie.

“Wanneer jy ’n kind verkrag, wanneer jy ’n kind op enige manier penetreer, is jy besig om daardie kind te vermoor. Ons wil weet hoe die staat hierdie kind en haar gesin gaan beskerm. Ons almal weet die man gaan binnekort vrygelaat word. Hoe word die gesin teen hom beskerm?”

Masego voel so sterk oor die saak dat sy ná die 2019-verkiesing in haar persoonlike hoedanigheid as aktivis regstappe gaan neem om die doodstraf vir seksuele oortreders te probeer instel.

Kenneth Meshoe, leier van die ACDP, het getwiet sy party is met afgryse vervul ná die “aaklige verkragting” van die meisie.

Solly Msimanga, die DA se premierskandidaat vir Gauteng, sê die feit dat die voorval in ’n openbare plek plaasgevind het, is ’n aanduiding dat kinders nêrens meer veilig is nie.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het gesê: “Kinders moet leer hoe om alarm te maak in ongewone situasies. Suid-Afrika is ’n gewelddadige land waar dit nie eers meer veilig is om rustig met jou kinders te gaan uiteet nie.”

KYK: WAARSKUWING: NIE VIR SENSITIEWE KYKERS NIE. Die video wat op sosiale media die ronde doen en glo net ná die voorval by die Dros Silverton geneem is.

Meer oor:  Silverton  |  Verkragting  |  Dros
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.