Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
KYK: Video van aanval op man (65) in Kuruman

’n Video waarop gesien kan word hoe ’n groep mans ’n boer van Daniëlskuil Saterdagoggend in Kuruman aanval en van sy besittings beroof, lok heftige reaksie op sosiale media uit.

Die beeldmateriaal wys hoe die 65-jarige Giep Niemann op die grond neergegooi en sy besittings uit sy hande geruk word.

’n Inwoner van die Noord-Kaap het Sondagaand die video op Facebook geplaas.

Die vrou het later die video as gevolg van vieslike kommentaar wat daarop gelewer is, verwyder.

Niemann se seun, Soon, het die video Sondagaand vir die eerste keer op sosiale media gesien.

Hy het gesê sy pa was Saterdagoggend in Kuruman om inkopies by Midas te doen.

“’n Man het sy selfoon uit sy boonste sak gepluk en my pa het hom agternagesit. Die aanval op die video het ná die insident gebeur.”

Soon sê sy pa is in ’n lokval gelei deur iemand wat vir hom geskreeu het dat die grypdief in ’n sekere rigting gehardloop het.

Niemand is meer veilig in Kuruman nie. Inwoners kla gereeld dat hulle helder oordag in die strate aangeval word.

Niemann het in daardie rigting na die man gaan soek, waarna vier mans hom van agter af platgetrek het.

Op die video kan gesien word hoe die mans hom oorrompel, op die grond neergooi en sy besittings uit sy hande ruk.

Hy probeer daaraan vasklou, maar die mans neem dit af en stap dan doodluiters weg.

Daarna staan Niemann op, stof hom af en loop weg.

Hoewel talle omstanders op die video gesien kan word, het niemand hom te hulp gesnel nie.

Soon sê sy pa het nie Saterdag ’n klag by die polisie aanhangig gemaak nie.

“My pa voel verneder en kla dat sy knie beseer is. Ons sal vandag die saak by die polisie in Kuruman aangee.”

Hy sê ’n vriend het toevallig die oorspronklike video na hom aangestuur sonder om te besef dat dit sy pa is.

Soon was dankbaar om die video te ontvang aangesien die plasing op sosiale media verwyder is. Hy sal die video nou as bewys by die polisie indien.

“Niemand is meer veilig in Kuruman nie. Inwoners kla gereeld dat hulle helder oordag in die strate aangeval word. Dit is bitter sleg dat ’n mens nie eens meer ’n winkel in die dorp kan besoek nie,” sê Soon.

Hy sê mense word gereeld in Kuruman se middedorp naby die FNB-bank en Midas aangeval en beroof.

Soon het die video weer op sy eie Facebook-blad geplaas. Die video is ook op die Facebook-groep We Can Stop The Genocide gedeel.

Meer oor:  Daniëlskuil  |  Kuruman  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.