Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
KYK: Video wys gas in kappietop buite bloederige kamer

Die polisie krap nog kop oor die grusame vonds wat Maandag in ’n kamer van ’n gastehuis naby die O.R. Tambo-lughawe in Kempton Park gemaak is.

Die polisie is verlede Maandag ontbied om vas te stel wat die oorsprong van plasse en plasse bloed en ’n mes in een van die kamers van die gastehuis is.


Die bloedbevlekte vloer van die kamer by die gastehuis in Kempton Park. Foto: Heleen Rossouw/Kempton Express

Daar kon teen druktyd nog nie bevestig word of dit menslike bloed is en of dit verbind kan word met die ondersoek na die moord op Yolandi Botes (35), wat op 26 April naby die lughawe vermis geraak het, nie.

Van Botes se liggaamsdele is op Dinsdag 4 Mei by ’n vakansieoord by Villiers in die Vrystaat gevind.

Die eienaar van die gastehuis in Kempton Park wat steeds verkies om anoniem te bly, sê hy is dronkgeslaan oor die vonds. Niemand wat aan Botes se beskrywing voldoen, was in enige stadium by sy gastehuis nie, sê hy.

Beeldmateriaal van Maandag se ontdekking is Dinsdag aan Netwerk24 gewys.

“Maar die persoon (wat in die betrokke kamer tuisgegaan het) lyk gesond, sonder enige beserings aan hom. Hy het ook alleen opgedaag en weer alleen die gastehuis verlaat. Net hy sal weet wat hy gedoen het en wat sy bedoeling was,” sê die eienaar.

Die gas stap met sy sak na sy kamer kort nadat hy by die gastehuis opgedaag en vir die kamer betaal het. Foto: Videoskermgreep

Wat die video wys

Die betrokke gas, in ’n donker kappietop, is Sondag om 03:23 by die gastehuis afgelaai en betaal kontant vir die kamer. Sewe minute later verlaat hy die gastehuis nadat hy sy sak – wat soos ’n skootrekenaarsak lyk – in sy kamer toegesluit het. Dié sak was half toegedraai in ’n swartsak van plastiek.

Om 04:02 keer die man terug na die gastehuis en word hy nie weer gesien nie totdat ’n tweede man, in ’n denimbaadjie, opdaag.

Nadat hulle vir ’n paar minute in die binnehof gestaan en gesels het, gaan hulle na die ontvangsarea, waar die tweede man in kontant vir nog ’n aand se verblyf betaal.

Die mans gesels dan by die kamer, maar die tweede man staan net in die deur. Hy verlaat die gastehuis om 08:15.

Skaars ’n minuut later loer die gas by die deur uit. Hy kyk versigtig rond en loop dan na die kombuis oorkant sy kamer.

Die gas (links) gesels met ’n tweede man wat op Sondag 2 Mei by die gastehuis opgedaag het. Die tweede man het nooit by die kamer ingegaan waar daar later bloed gevind is nie. Hy het wel die kamer vir nog ’n dag bespreek en ook in kontant daarvoor betaal. Foto: Videoskermgreep

“As hy terugstap na die kamer, kan ’n mens nie sien hy hou ’n mes vas nie, ek vermoed hy het dit in sy sak of so weggesteek,” sê die eienaar.

Om 08:29 ontmoet die gas weer die man in die denimbaadjie, maar hulle gaan steeds nie die kamer binne nie.

Die gas stap hierna terug na sy kamer en word eers weer Maandag om 05:56 gesien toe hy die gastehuis verlaat, met sy sak by hom. Die swart plastieksak het in die kamer agtergebly.

Waar kom die bloed vandaan?

Die polisie is die Maandagoggend ontbied, maar het teen die middag die toneel verlaat en nie teruggekeer nie, aldus die eienaar.

Herhaalde pogings om hulle terug te ontbied, het misluk en teen Dinsdag het die eienaar se veiligheidsmaatskappy gesê hy kan maar die kamer opruim.

Dinsdagaand laat het hy ’n oproep ontvang om te staak waarmee hy besig is en Woensdagoggend het daar ’n horde polisievoertuie voor die gastehuis stilgehou.

Teen daardie tyd het die eienaar al die bedlinne begin was en bykans al die bloed met skoonmaakmiddels skoongeskrop.

Dié mes, wat aan die gastehuis behoort, het op die vloer in die droë bloed gelê.

Die polisie het teen druktyd nog nie op navrae gereageer nie.

“Dit is nie vir my om te sê nie, maar ek dink steeds nie daar is ’n moord gepleeg nie,” sê die gastehuiseienaar. “Daar was ’n bottel wyn in die kamer, dalk het die persoon dit met water gemeng en dit uitgemors sodat dit soos ’n misdaadtoneel moet lyk. Of dalk het die persoon ’n rituele offer uitgevoer. Ek sal nie weet nie, dit is onwettig om kameras in die kamers te sit.”

Meer oor:  Yolandi Botes  |  Video  |  Gastehuis  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.