Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
KYK: Video wys konfrontasie tussen Van Heerden en Rooimier

WAARSKUWING: GRAFIESE VIDEO

Sabelo Patrick Dhlamini (41), die veiligheidswag wat van die moord op Danie van Heerden (61) van Meyerton in Gauteng aangekla word, sal Woensdag weer in die landdroshof in Vereeniging verskyn, waar hy na verwagting om borgtog sal aansoek doen.

Chris van Heerden en sy pa, Danie.

Van Heerden se kroos van 13 het egter ’n petisie met die naam, “Prevent bail for Mr Daniel van Heerden’s killer” op die been gebring om dit te probeer verhoed.

Die petisie, wat teen middagete al oor die 3 000 stemme gehad het, moet die hof twee maal laat dink voor hy Dhlamini borgtog toestaan, sê Danie jr. van Heerden, een van die seuns.

Van Heerden is na bewering verlede Donderdag deur dié veiligheidswag verbonde aan die Rooimiere doodgeskiet toe hy hom oor beweerde diefstal gekonfronteer het.

Vroeër is berig Van Heerden het langs die pad stilgehou toe hy sien hoe Dhlamini na bewering onwettig vleis uit ’n vragmotor laai. Toe Van Heerden hom daaroor konfronteer, het die vragmotor glo weggejaag. Dhlamini het Van Heerden se beskuldigings ontken.

In die video wat aan Netwerk24 verskaf is, beskuldig Dhlamini Van Heerden dat dié hom probeer kaap.

Volgens Rudolf, nog ’n seun, het die koeël dwarsdeur Van Heerden se skouer en sy een arm getrek en hom in die sy getref.

Chris van Heerden
Chris van Heerden Foto: Facebook

Intussen het Chris van Heerden, ’n ander seun en suksesvolle bokser wat in Los Angeles, Amerika, woon, in Suid-Afrika aangekom.

Chris – oftewel The Heat, soos hy in bokskringe bekend staan – is ’n voormalige weltergewigwêreldkampioen.

’n Video waarin hy vertel wat met sy pa gebeur het, is al byna 260 000 keer op Twitter gekyk.

“Die wêreld weet nie wat in Suid-Afrika aangaan nie,” het Chris aan Netwerk24 gesê, pas nadat hy geland het.

“Ek het nooit gedink dit sal met my gebeur nie. My pa is doodgeskiet omdat iemand gemaklik was met die idee. Ek is nie ’n rassis nie. Ek het in my video ook gesê nie elke swart man is ’n moordenaar nie en nie elke wit man is ’n rassis nie, maar as die BLF-leier opstaan en moord op die wit Afrikanervolk aanmoedig – hoe gaan mense dan anders maak?”

Andile Mngxitama, leier van Black First Land First (BLF), was onlangs in die nuus nadat hy in Potchefstroom aan ’n skare gesê het dat hy “50 000 soldate bymekaarmaak om wit mense dood te maak”.

Danie van Heerden
Danie van Heerden Foto: Facebook

“Genoeg is genoeg. Ek weet almal het probleme, maar mense moet begin sien wat in Suid-Afrika aangaan. My pa was ’n goeie mens. Hy het nie verdien om so te sterf nie.”

Chris se kleinboet, Donjuan (17), ook ’n kranige bokser, was by sy pa ten tyde van die voorval.

“Ek gun dit nie vir hom nie. Ek het nou vir twee uur met hom gesit en gesels. Hy het in trane uitgebars. Hy sê as hy sy oë toemaak, sien hy dit nog voor hom afspeel,” sê Chris.

Chris sê Donjuan het aan hom gesê hul pa het hom probeer beskerm nadat hy geskiet is.

“My broer (Donjuan) sê my pa het by die passasierskant bly staan om hom (die broer) te beskerm toe hy geskiet is. Dis eers toe hy omloop na die bestuurderskant en die deur oopmaak, wat hy inmekaargesak het,” het Chris in trane gesê.

“My broer het hom vasgehou terwyl hy op die grond gelê het. Hy sê hy kon die trane in my pa se oë sien. Hy het gehoor hoe my pa sy laaste asem uitblaas.”

Chris het sy beste vriend verloor.

“Hy het my elke dag Amerika toe gebel. My pa was ’n hardwerkende man en het geglo: As jy ’n ding doen, doen jy hom rég. Ek is die man wat ek is danksy my pa.”

Van Heerden het volgens sy kinders ’n veiligheidsonderneming besit, maar was ten tyde van sy dood ’n pensioentrekker. Hy het egter nog uitgehelp by sy seun Rudolf se veiligheidsonderneming.

Benewens Chris, Donjuan, Danie jr. en Rudolf, word Van Heerden oorleef deur sy kinders, Michael, Bianca, Wilma, Mari en Daniela van Heerden, Willem van Greunen, Warrick James, Tertia Bester en Tiekie Schemper, asook sy vrou, Wilma.

Van Heerden word Vrydag by die Klipdraai-troulokaal, net langs die Klipdraai-woonwapark begrawe.

Meer oor:  Danie Van Heerden  |  Vereeniging  |  Landdroshof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.