Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
KYK: Voormalige Valke-hoof oorleef aanval by huis

Wat gaan deur ’n mens se kop as ’n vuurwapen op jou gerig word?

“Pure oorlewing,” sê genl. Johan Booysen, afgetrede hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, nadat hy Maandag ’n aanval by sy huis in die ooste van Pretoria oorleef het.

Hy vermoed dit was nie ’n gewone aanval nie.

Genl. Johan Booysen, afgetrede hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, vertel Dinsdag in Pretoria van die aanval op sy lewe. Foto: Deaan Vivier

“Daar is verskeie goed wat ek ondersoek en ek kry gereeld dreigemente. Dit is die eerste ding waaraan ek gedink het toe ek besef my aanvaller hou ’n wapen vas,” sê Booysen.

Hy het Netwerk24 in ’n koffiewinkel, nie ver van sy huis af nie, ontmoet.

Dit was om 14:27 en die aanval het net meer as 20 sekondes geduur. Hy weet dit, want hy het later op die veiligheidskameras se beeldmateriaal gekyk en tot die besef gekom daar was vier aanvallers.

Booysen se eerste gewaarwording was toe hy sien iemand probeer die motorhek van sy woonkompleks oophou deur sy hand voor die ogie te hou.

Hy het gedink dis kontrakteurs wat buite die kompleks staan en het stilgehou om hulle te vra om dit nie te doen nie.

Een van die “kontrakteurs” het toe egter op Booysen in sy motor afgepyl en ’n vuurwapen op hom gerig. Booysen het gesien hoe die rower die skoot aftrek, maar niks gebeur nie.

Genl. Johan Booysen beduie hoe vuurwapens op hom gerig is voor sy huis in ’n kompleks in die ooste van Pretoria. Foto: Deaan Vivier
Genl. Johan Booysen, afgetrede hoof van die Valke in KwaZulu-Natal. Foto: Deaan Vivier
Een van die aanvallers rig ’n vuurwapen op genl. Johan Booysen terwyl hy nog in sy voertuig sit. Die aanvaller het ’n skoot afgetrek, maar sy wapen het geweier. Foto: Verskaf
’n Tweede aanvaller snel sy makker (wat steeds sy wapen rig) te hulp. By die hek sit nog twee aanvallers in ’n motor en wag. Die eerste aanvaller het uit dié motor gespring en agter Booysen se motor aangehardloop. Foto: Verskaf

“ ’n Mens sit daar in jou kar en wag vir die skoot om jou te tref en wonder wanneer voel jy nou die koeël,” sê Booysen.

Dit is toe dat hy tot aksie oorgaan en sy motor in trurat sit om die aanvaller te probeer omry. Hy was in daardie stadium ongewapen.

“ ’n Mens verwag nie so iets nie. Jy ry dan net gou huis toe, maar ek moes eintlik meer paraat gewees het.”

’n Inwoner van die kompleks het van ’n balkon af gesien wat gebeur en op die aanvallers geskreeu.

’n Tweede aanvaller het sy makker te hulp gesnel en ’n vuurwapen op die inwoner gerig. Gelukkig het die tweede aanvaller nie ’n skoot afgetrek nie.

En of dit nou ’n sluipmoord of net ’n gewone aanval was, dit bly onrusbarend dat mense nie meer veilig is in ’n oënskynlik veilige plek soos dié nie.

Die inwoner, sê Booysen, is ongedeerd, maar het homself koud geskrik.

Booysen het vorentoe gejaag en die eerste aanvaller net-net gemis. Dit is toe dat die aanvallers besluit om die aftog te blaas en in hul wagtende voertuig gespring het.

Kapt. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder in Gauteng, het die voorval bevestig en gesê dit word ondersoek. Niemand is nog teen Dinsdag in hegtenis geneem nie.

“Dit word nog ondersoek, maar wat ek wel weet, is dat daar ’n aanslag was en ek gaan kyk wat die ondersoek oplewer,” sê Booysen.

“En of dit nou ’n sluipmoord of net ’n gewone aanval was, dit bly onrusbarend dat mense nie meer veilig is in ’n oënskynlik veilige plek soos dié nie.”

Meer oor:  Valke  |  Aanval  |  Huis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.