Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
KYK: Wag slinger winkeltrollies na aanvallers

Winkeltrollies en later ’n knuppel – dít is wat ’n veiligheidswag wat by die OK Minimark op Saldanha aan die Weskus werk, Woensdag gebruik het om twee gemaskerde aanvallers te verdryf.

Die twee mans het die wag met messe aangeval.

Die twee mans haal hul messe uit om ’n veiligheidswag by die OK Minimark op Saldanha aan te val. Foto: Skermgreep

Beeldmateriaal van kringtelevisiekameras in die winkel wys hoe die mans by die uitgang staan en die messe uithaal.

’n Video van die aanval is sedertdien op sosiale media versprei. Dit wys hoe die wag die twee mans gaan konfronteer. Een begin met sy mes na hom steek, waarna hy een van die klein winkeltrollies wat by die ingang staan, optel en na die aanvallers gooi.

Tydens die onderonsie, wat sowat ’n minuut duur, gly een van die aanvallers, terwyl die ander een ook ’n winkeltrollie optel en die wag daarmee aanval. Die wag slaan met sy knuppel na sy aanvaller.

Kort daarna snel nog ’n werker van die winkel hom te hulp en die twee slaag daarin om die twee aanvallers by die winkel uit te boender en die deure agter hulle toe te druk.

Die twee mans met die messe val die veiligheidswag (met sy rug na die kamera) aan. Hy baklei terug met iets in sy hand wat soos ’n skerp voorwerp lyk. Foto: Skermgreep

Luzanne Damoens, ’n ander werknemer by die OK Minimark, het die wag Donderdag as baie dapper beskryf.

Volgens haar het die voorval kort ná 07:00 plaasgevind.

Volgens Damoens het die twee aanvallers in die winkel rondgeloop. Die veiligheidswag het hulle dopgehou. Een het uitgeloop, terwyl die ander een nog in die winkel bly ronddrentel het.

Die veiligheidswag het die man wat nog in die winkel was, gevra om dit te verlaat, waarna hulle die wag by die ingang na die winkel begin aanval het.

Damoens sê dat die mans aan die wag bekend is.

“Hulle het al voorheen hier gesteel. Ons ken hul gesigte, maar ongelukkig nie hul name nie.”

Die wag het volgens haar ’n hou teen die gesig gekry, maar is andersins ongedeerd.

“Hy het vandag (Donderdag) ’n saak gaan open en was vanoggend weer aan diens,” sê Damoens.

Kapt. Frederick van Wyk, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig. Hy vra dat mense met inligting die Saldanha-polisie by 022 714 8333/4/5 kontak.

Meer oor:  Saldanha  |  Aanvallers  |  Veiligheidswag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.