Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
KYK: Polisie ontvoer glo burgemeester

* WAARSKUWING: Die video by hierdie berig kan sommige kykers ontstel. 

’n Prokureur van Ladysmith in KwaZulu-Natal gaan regstappe teen Bheki Cele, minister van polisie, doen nadat polisielede na bewering die burgemeester van die dorp ontvoer en sy veiligheidswagte ernstig aangerand het.

Justin Heunis, prokureur, sê lede van die polisie se taakspan wat politieke moorde in die provinsie ondersoek, het Vrydag kort ná 06:00 by die huis van Vincent Mayiboyi Madlala, die burgemeester van die Alfred Duma-munisipaliteit, opgedaag.

Op die video kan gesien word hoe mans wat uit polisiebakkies klim, die veiligheidswagte op die grond voor die huis laat lê, hulle met ’n sambok slaan en herhaaldelik in die gesig en teen die kop skop.

Heunis sê die polisielede het Madlala se gesprek met hom kortgeknip, sy selfoon afgevat en hom ontvoer, waar hy gedurende die naweek 250 km van sy huis af aangehou is sonder dat sy familie geweet het waar hy is.

Vincent Mayiboyi Madlala, burgemeester van die Alfred Duma-munisipaliteit. Foto: ecr.co.za

Madlala en sy dogter, Sanelisiwe Sinazo Madlala, het Maandag in die landdroshof in Ezakheni op aanklagte van die besit van onwettige vuurwapens en dwarsboming van die gereg verskyn. Hulle is albei op borgtog van R10 000 vrygelaat.

Sbonelo Mondli Madlala (28), Madlala se seun, is in 2019 in ’n politieke moord in Ezakheni doodgeskiet. Sy vriend Thembakani Malinga (29) is langs hom deur ’n onbekende aanvaller afgemaai.

Madlala was in 2020 twee maande lank met siekteverlof nadat gewelddadige betogings teen hom die dorp tot stilstand geruk het.

Die premier, Sihle Zikalala, het toe belowe dat alle klagte teen hom ondersoek sal word.

Heunis sê die klagte teen Madlala spruit daaruit dat die veiligheidswagte glo gekeer het dat die polisie by sy erf inkom. Die veiligheidswagte se vuurwapens is almal geregistreer.

Lirandzu Themba, woordvoerder van die ministerie van polisie, het by navraag gesê as Madlala of die veiligheidswagte aanvoer dat hulle deur lede van die polisie aangeval is, moet hulle die onafhanklike polisiedirektoraat (Opod) nader om die klagte te ondersoek. Alle bewerings wat daarmee verband hou, moet deur Opod ondersoek word.

“Mnr. Madlala is nie ontvoer nie, maar is Vrydag in hegtenis geneem.”

Heunis sê om klagte by Opod in KwaZulu-Natal in te dien, is algehele tydmors. Hy ondersoek nie eens moordsake nie, wat nog van aanranding. Hy gaan wel die klagte by die polisie indien.

Opod het op 'n vorige klag gesê hulle het net 16 ondersoekbeamptes vir die hele provinsie en meer as 1 000 polisielede. Hulle doen hul bes, maar kan nie al die klagte ondersoek nie.

“Dit is waar dit eindig, maar hoekom doen die minister of die kommissaris nie tugstappe nie? Hulle kan self sien wat gebeur het. Dit is belaglik, maar só gaan dit met alles en dit is hoekom die polisie in Suid-Afrika so tekere gaan. Hulle weet hulle mag maar.”

Ek sou graag die polisiebeamptes persoonlik wou dagvaar, maar die polisie sal nooit hul name openbaar maak nie.

Heunis sê hy het Woensdag met die veiligheidswagte vergader om die regsgeding te begin. Hy gaan beslis ’n eis teen die minister van polisie instel.

Volgens hom gebeur hierdie soort ding gereeld, maar dié keer het hy volledige beeldmateriaal van die hele aanval. Dit word veilig in ’n kluis bewaar.

“Ek sou graag die polisiebeamptes persoonlik wou dagvaar, maar die polisie sal nooit hul name openbaar maak nie. So, ’n mens is genoodsaak om die minister te dagvaar en ons belastingbetalers betaal weer. Die polisielede kom altyd skotvry daarvan af, want die minister en generaals beskerm hulle.”

Sodra hy die klagte ingedien het, gaan hy die klagte en die videogrepe vir Cele en die provinsiale polisiehoof stuur.

“Jy kan dit ook aanteken dat ek die minister en sy generaals nooi om na alle videobeelde te kom kyk,” sê Heunis.

Meer oor:  Bheki Cele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.