Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
KYK: Wagte wou Spar beveilig toe hulle vermoor is

Daar was geen wegkomkans nie.

Vier aanvallers het Maandagaand op 'n veiligheidsmaatskappy se reaksievoertuig toegeslaan, terwyl 'n vyfde man vermoedelik naby die Spar waggehou het.

Bhekumzi Luxon Mzolo (50), ’n reaksie-toesighouer van die National Security & Fire-veiligheidsmaatskappy.Foto: Verskaf
Joseph Skhosana (42), ’n reaksiebeampte van die National Security & Fire-veiligheidsmaatskappy.Foto: Verskaf

Die aanvallers het by twee geparkeerde voertuie agter die gemerkte voertuig van die National Security & Fire (voorheen Chubb) verdeel in twee groepies, in wat kenners as ’n hinderlaagaanval beskryf.

Onbewus hiervan het Bhekumzi Luxon Mzolo (50), reaksietoesighouer, en Joseph Skhosana (42), ’n reaksiebeampte, albei van die maatskappy se Johannesburg-Noord-tak, kort tevore voor die Spar in Hillbrow ingetrek.

Dit is ook waar hul aandag was omdat hulle luidens ’n verklaring van National juis gestuur is om met toemaaktyd ’n oog oor die winkel te hou.

“Ons vermoed dat die vyf aanvallers die winkel wou beroof, maar dat hulle toe die sekerheidsvoertuig gewaar het. Hulle het toe na die voertuig gestap en die beamptes koelbloedig doodgeskiet,” lui ’n verklaring deur National Security & Fire.

National verwys ook na die beeldmateriaal van ’n kringtelevisiekamera wat wys hoe twee van die aanvallers die voertuig van regs agter nader, terwyl hulle besig is om hul vuurwapens oor te haal.

“Dan skiet hulle albei beamptes sonder waarskuwing.”

Die beeldmateriaal wys dit het die aanvallers minder as twee minute geneem om die reaksievoertuig te nader, Mzolo en Skhosana te vermoor en een se vuurwapen te roof – al moes die een moordenaar halflyf deur die venster, oor een van die lyke, hang om die wapen by te kom.

Kapt. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, het bevestig dat vermoedelik minstens vyf rowers by die aanval betrokke was.

“Die twee veiligheidswagte is albei in die bolyf geskiet. ’n Lykskouing sal bepaal presies hoeveel keer elkeen getref is. Hulle is op die toneel dood verklaar,” sê hy.

Nooddienste stop op die toneel waar twee veiligheidswagte pas in hul voertuig voor ’n Spar in Hillbrow vermoor is.Foto: Verskaf
Polisie sper die moordtoneel af kort nadat twee veiligheidswagte in hul voertuig doodgeskiet is.Foto: Verskaf

Net een van die slagoffers se vuurwapen is geroof.

“Die polisie ondersoek twee klagte van moord. Ons vra enigeen met inligting om hul naaste polisiekantoor te kontak,” sê hy.

Die verloop van die misdaad soos op die beeldmateriaal gesien:

Die twee veiligheidswagte sit in hul voertuig in die reën voor die Spar op die hoek van Caroline- en Claimstraat.

Om 20:16:22 kom vier mans oor die nat sypaadjie aangedrentel.

Twee beweeg koes-koes op ’n drafstappie na die ander kant van die pad.

Hulle stap totdat amper by die reaksievoertuig se agterkant voordat een na die bestuurder se venster hardloop en sy regterarm met ’n vuurwapen in sy hand uitstrek.

Skadu's deur die voorruit wys hoe die insittendes beweeg.

Die aanvaller se arm ruk asof hy skiet. Dan leun hy deur die venster die voertuig in.

Die ander twee aanvallers kom van oorkant die pad gehardloop; een van hulle ook met ’n vuurwapen in die hand.

Vier van die aanvallers verdeel kort agter die reaksiemotor in twee groepe sodat hulle dit van weerskante kan aanval. Foto: Skermgreep
Kort nadat die twee veiligheidswagte vermoor is, leun een aanvaller deur die venster, vermoedelik om ’n vuurwapen te roof, terwyl die vyfde makker (met die hoed) van links af nader draf.Foto: Skermgreep
Vonke spat uit die loop van ’n vuurwapen toe een van die moordenaars sommer lukraak na die winkel se kant toe skiet. Foto: Skermgreep

Terwyl een van die skieters so ver deur die venster leun dat sy voete van die grond af lig, kom ’n vyfde man met ’n hoed van die Spar se kant af nader.

Hy was vermoedelik die “brandwag” vir die ander vier.

Hoewel die meeste voertuie en voetgangers oënskynlik ongeërg, maar ’n bietjie vinniger, verbybeweeg, moes iemand buite die kamera se skerm alarm gemaak het, want die een aanvaller draai en vuur skote in die rigting van die winkel.

Om 20:17:35 draf die aanvallers weg.

Dié aanval kom net vier maande nadat Eric Ngobese en Boykie Moyo van die 24/7-veiligheidsdiens op 10 Oktober 2018 in ’n soortgelyke scenario in hul voertuig buite die Maponya Mall in Soweto vermoor is.

Ook hier is net ’n vuurwapen geroof.

Die polisie het dié aanvallers later in KwaZulu-Natal doodgeskiet.

Yagan Nair, uitvoerende hoof van National Security & Fire, verwys in die maatskappy se verklaring ook na die Soweto-voorval en voeg by: “Dit is die tweede wreedaardige voorval in ons bedryf in die laaste paar maande. Ons mense plaas daagliks hul lewens op die spel om ons kliënte te beskerm en Suid-Afrika veiliger te maak.

“Ons sal voortgaan om dit te doen. Ons sal nie misdadigers toelaat om met hierdie tipe moorddadigheid weg te kom nie.”

Oorledenes ‘altyd bereid om ander te help’

Yagan Nair, uitvoerende hoof van National, sê die twee vermoorde beamptes was mense met families, wat albei altyd bereid was om ander te help.

* Bhekumzi Luxon Mzolo (50) het op 16 September 2005 by die veiligheidsmaatskappy as reaksiebeampte begin werk.

National sê hy het hom die afgelope 13 jaar opgewerk tot sy huidige pos as reaksie-toesighouer.

Hy het ’n vrou, Joyce, ’n seun, Thabiso, en twee dogters, Thandeka en Aphiwe.

* Joseph Skhosana (42) het meer as sewe jaar diens by National. Hy het op 3 Mei 2011 daar begin werk.

Hy word deur sy broer, Nkabinde, en twee susters, Mmantopi en Matjobane, oorleef.

“Albei beamptes was mens-mense, wat met hul hulpvaardige en omgee-persoonlikhede talle van ons kliënte se lewe geraak het,” sê National.

Dit kan ’n neiging word

Veiligheidspesialiste het ná die moorde op die wagte in Soweto gewaarsku dié tipe aanvalle kan ’n neiging word: wagte wat vasgekeer in hul voertuie sit met die een ding wat misdadigers soek – vuurwapens.

“Veiligheidsbeamptes word geteiken vir hul wapens, want ’n vuurwapen is die debietkaart van die onderwêreld. Jy ‘trek’ geld daarmee en dit baan die weg na die volgende, groter misdaad,” het André Niemann, ’n private ondersoeker van Ansec Consult, destyds verduidelik.

Die modus operandi was vroeër dat die aanvallers die wagte sou beroof eerder as vermoor – tot met die Soweto-voorval verlede jaar.

“In die Soweto-voorval, sowel as Maandagaand, het die aanvalle met beplanning en observasie gepaardgegaan. Telkens is net ’n vuurwapen geroof.

“Die aanvallers het nie eens die veiligheidswagte probeer aanhou en net beroof nie. Hulle het geweet wie en wat hul teiken was, het die voertuig basies omsingel en die wagte trompop doodgeskiet,” sê Niemann.

Yusuf Abramjee, ’n gemeenskapsteenmisdaad-aktivis, sê die koelbloedigheid van die aanval in Hillbrow wys hoe waaghalsig misdadigers raak met hul “strooptogte”.

“Die twee veiligheidswagte sit in hul voertuig en word duidelik verras. Misdadigers soek altyd na wapens om nóg misdrywe te kan pleeg.

“Hulle is bekruip en onverhoeds betrap. Dit is kommerwekkend,” sê hy.

Meer oor:  Spar  |  National  |  Hillbrow  |  Lokval  |  Vermoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.