Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
KYK: Winkeleienaar kry glo beroerte ná ‘EFF-lede’ se teistering

’n Winkeleienaar en ouma van Viljoenskroon is glo Dinsdag in haar winkel gedreig deur mense met EFF-klere aan nadat sy hulp ontbied het toe ’n man haar glo wou beroof.

Lynne Griesel, Engela Griesel se skoondogter, sê ’n man het ’n paar keer in en uit die winkel geloop en verdag voorgekom.

Die man het later weer die winkel ingekom, dié keer saam met ’n paar ander mense.

Hy het geld by Engela geëis en haar gedreig.

Engela, wie se vierjarige kleinkind by haar was, het ’n noodknoppie gedruk en die polisie gebel.

Gerhard Dreyer, ’n sekerheidswag van Viljoenskroon, is deur mense aangeval toe hy ’n winkeleienaar wou beskerm.Foto: Overvaal Stereo/ Facebook

Griesel sê haar skoonma het ook vir haar en Suzette Mouton, haar dogter en die ma van die vierjarige, gebel om te kom help.

’n Veiligheidswag wat op die noodroep reageer het, Gerhard Dreyer, het by die winkel opgedaag.

Neels van Staden, eienaar van die sekerheidsmaatskappy ERJVS, sê iemand het intussen die vermeende booswig met pepersproei gespuit.

’n Groep mense met EFF-pette en T-hemde het opgedaag en glo gedreig om die winkel te vandaliseer.

Dreyer is deur dié groep aangeval en sy hemp van sy lyf geskeur, glo omdat hulle gedink het dit is hy wat die verdagte met pepersproei gespuit het.

In hierdie stadium het die polisie nog nie opgedaag nie omdat daar glo nie ’n vangwa beskikbaar was nie.

’n Polisielid wat met verlof was, het kom help om die winkel te beveilig.

Engela het in ’n stadium inmekaar gesak. Van Staden sê die polisielid en van sy wagte het haar, haar kleinkind en Mouton na veiligheid gebring.

Iemand het die plaaslike buurtwag gevra om te kom help en nog iemand het polisielede gaan haal om te help om die situasie te ontlont.

Griesel sê paramedici het haar skoonma by haar huis behandel. Sy het glo ’n ligte beroerte gehad.

Intussen het die polisie Engela aangeraai om die winkel vir ’n paar dae gesluit te hou.

Griesel sê mense wat sê hulle is van die EFF het Woensdag buite die winkel gesit.

Sy sê haar ma het nog nie ’n klag aanhangig gemaak nie omdat sy nie goed voel nie en omdat die plaaslike polisiestasie intussen weens Covid-19 gesluit is.

Van Staden sê die man wat Engela glo wou beroof, is iemand wat gereeld probleme in die dorp veroorsaak.

Die polisie sal eers kommentaar lewer oor die gebeure wanneer ’n saak geopen is.

Meer oor:  Eff  |  Viljoenskroon  |  Teistering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.