Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Ystervrou van Zastron’ vertel van aanval op plaas

Een van die plaasaanvallers wat gedreig het om Daleen van der Hoven (80), “Ystervrou van Zastron”, te vermoor omdat sy vir hulle te min geld sou gee, is glo ’n begenadigde wat weens die koronaviruspandemie uit die Grootvlei-gevangenis in Bloemfontein vrygelaat is.

Daleen van der Hoven (80) wat aangeval en in die yskoue en stikdonker in Lesotho afgelaai is. Foto: Mlungisi Louw

Dié inligting is volgens Lize du Plessis, Van der Hoven se dogter, deur ’n speurder van Zastron aan haar broer gegee.

Die speurder het gesê dat twee van die vier aanvallers se vingerafdrukke daarop wys dat hulle 'n misdaadgeskiedenis het.

Pres. Cyril Ramaphosa het op 8 Mei bekend gemaak dat sowat 19 000 gevangenes voortydig op parool vrygelaat gaan word in ’n poging om die verspreiding van die virus te keer, en die aanvaller is glo een van hulle.

Daleen van der Hoven (80) en haar dogter, Lize du Plessis van Bloemfontein, by wie sy nou bly totdat die bloeding op haar brein opgeklaar het. Foto: Mlungisi Louw

Brig. Sam Makhele, woordvoerder van die Vrystaatse polisie, sê die departement van korrektiewe dienste sal dit moet bevestig. Vorige misdaadrekords sal aan die hof gelewer word en voordat dit nie by die hof ingedien is nie, kan hulle nie hieroor inligting verskaf nie.

Van der Hoven het Vrydagmiddag in ’n onderhoud gesê sy wil terugkeer na haar plaas, Aasvoëlkop, by Wanatha in die Zastron-distrik, waar sy drie weke gelede erg aangerand en ontvoer is en kaalvoet in -5 °C in haar slaapklere en sonder ’n bril in Lesotho agtergelaat is.

Die passievolle boervrou sê sy kan nie meer wag om haar beeste self op die plaas, waar sy al 58 jaar lank boer, te voer nie.

Sy het rustig oor die voorval in haar dogter se sitkamer in Bloemfontein gesit en gesels en gesê sy wil terugkeer ondanks die feit dat sy gehoor het hoe haar vier gewapende aanvallers beplan om haar dood te maak. “Hulle het herhaalde kere gesê hulle gaan my doodmaak omdat ek te min geld gee.”

Daleen van der Hoven (regs) en haar dogter, Lize du Plessis van Bloemfontein. Foto: Mlungisi Louw

Nog net twee van die vier aanvallers is deur die Lesotho-polisie in hegtenis geneem, van wie een ontsnap het deur glo van ’n polisiebakkie af te spring, sê Du Plessis.

“Ek kon alles verstaan wat hulle gepraat het onderwyl hulle my in my Audi oor die grens ontvoer het, omdat ek Sotho magtig is. Maar die feit dat ek kalm gebly en die heeltyd mooi met hulle gepraat het, het waarskynlik my lewe gered,” sê Van der Hoven.

“Ook die feit dat ek die heeltyd, sonder ophou, vir die Here gebid het toe hulle my beroof, erg aangerand en ontvoer en voor my gepraat het oor hoe hulle my om die lewe wil bring.”

Van der Hoven wil nou dié raad met ander deel.

“Ek het altyd so ’n mooi verhouding met my werkers en die mense van die omgewing. Ek weet nie waarom hulle my so seergemaak het nie,” sê sy.

Daleen van der Hoven (80) van Zastron sê sy het in Lesotho by iemand aangeklop en gesê: “Dit is Mabatho, maak vir my oop.” Mabatho beteken “vrou van die volk”. Foto: Mlungisi Louw

Van der Hoven sê sy is besig om te verwerk wat met haar op die nag van 3 Julie gebeur het.

“Ek kry nog verskriklike hoofpyne. Dit is nie ’n maklike pad wat ek gestap het nie. Die dokters sê dit is die stolling van die bloed op die brein wat ’n drukking veroorsaak wat nou die hoofpyne gee. Maar die liggaam verwerk self die gestolde bloed en sowat 80% van die bloed is al verwerk. Ek moet weer vir ’n breinskandering gaan.”

Van der Hoven sê haar plaashuis is baie veilig en die veiligheidsdeur is van taamlike dik staal.

“Ek het vir myself gesê hier sal niemand ooit kan inkom nie, maar die deur se slot is met ’n gasbotteltjie en blaasvlam oop gebrand.

“My aanvallers is by ’n sydeur van die huis in, die gang af en het ’n tweede veiligheidsdeur naby my kamer oopgebreek waarna ek wakker geword het.

“Toe ek orent kom, het ek gesien hier staan een op sy knieë en sê: ‘Ouma, ons soek geld’.”

Sy sê toe sy wou opkom, is sy hard met ’n stuk yster oor die kop geslaan.

Daleen van der Hoven (80). Foto: Mlungisi Louw

“Hulle het my handsak met volstruisleer-beursie wat ek vir my 80ste verjaardag gekry het, sowat R3 000 en juweliersware gevat, asook ’n paar grysblou Nike-tekkies wat ek in Italië tydens ’n oorsese reis gekoop het.”

Sy sê die mans het met klein liggies gewerk, “soos dié wat ’n mens by Pep Stores koop”.

“Toe ek die huis se hoofligte wou aanskakel (sodat hulle kon sien wat hulle doen), is ek ’n tweede keer oor die kop gemoker.”

Twee gewere en ’n windbuks is ook uit Van der Hoven se oorlede man, Naas, wat ’n Springbokskut was, se kluis gesteel.

Hierna moes sy saam met die mans ry en die motor teen die steiltes bestuur.

In Lesotho het hulle haar kaalvoet in die stikdonker en snerpende koue gelos en haar Audi sowat 2,5 km van daar uitgebrand.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.