Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Kykers van gewilde sepie glo bedrieg met slenter
Dié advertensie is gebruik om mense te lok om kaartjies te koop om hul gunsteling-akteurs in Binnelanders te ontmoet.Foto: Facebook

Dit was vir aanhangers van die gewilde TV-sepie Binnelanders ’n bitter pil om te sluk dat hulle klaarblyklik met ’n slap riem gevang is nadat hulle geld betaal het om hul gunsteling-karakters en -akteurs te ontmoet.

Net meer as ’n maand gelede het Dandelion Kunste met groot geskal sy Celeb Ontmoet & Kuier-geleentheid aangekondig.

Nou huil talle aanhangers van dié sepie in hul hande nadat die geleentheid “sommer net so” gekanselleer en hulle hul kaartjiegeld kwyt is.

Die geselligheid sou op 25 Mei in Dozi’s Back to the Roots in Hartebeespoortdam plaasvind en volgens die advertensie, wat op 24 Maart op die Facebook-blad Binneland Stereo geplaas is, sou mense die akteurs van Binnelanders daar kon ontmoet.

Kaartjies was R160 vir volwassenes en R80 vir kinders en sou ’n spitbraai-ete insluit.

Op 31 Maart het Dandelion Kunste op Facebook aangekondig dat al die kaartjies uitverkoop is.

Maar verlede Maandag het Binnelanders aan Binneland Stereo geskryf dat die geselligheid gekanselleer is.

“Ons moet ongelukkig slegte nuus met julle deel: Ons verneem dat die ‘Fan Event’, wat onafhanklik van Stark Films gereël is, vir Saterdag, 25 Mei 2019, by Back to the Roots in Hartbeespoortdam afgestel is,” lui die inskrywing.

Ons moet ongelukkig slegte nuus met julle deel: Ons verneem dat die ‘Fan Event’, wat onafhanklik van Stark Films gereël is, vir Saterdag, 25 Mei 2019, by Back to the Roots in Hartbeespoortdam afgestel is.

Diegene wat kaartjies gekoop het, is aangeraai om regstreeks met Dandelion te skakel om hul terugbetaling te reël.

Ernst Swart, die publisiteitsbestuurder van Stark Films wat Binnelanders vervaardig, het Woensdag by navraag gesê Stark Films was glad nie bewus van die geselligheid nie.

Volgens Swart het Dandelion Kunste die maatskappy genader om uit te vind watter akteurs sou vir so ’n geleentheid beskikbaar kon wees.

“Die volgende wat ons gesien het, was dat die geleentheid geadverteer sonder dat enigiets met ons gereël is,” sê Swart.

Hy sê Dandelion Kunste het nie ’n datum vir die geselligheid nie, ook nie die plek waar dit gehou sou word of enige reëlings vir die dag se verloop verskaf nie.

Dandelion Kunste se kontaknommer op sy advertensie was Woensdag afgeskakel. Die maatskappy het ook nie op skriftelike boodskappe gereageer nie.

Back to the Roots in Hartbeespoortdam se telefoon was ook afgeskakel.

Van die aanhangers het op Binneland Stereo aangedui dat hulle klagte by die polisie aanhangig gemaak het.

Nóg mense beweer dat Dandelion Kunste hulle op ander maniere ingeloop het.

Mike Anstey, ’n gestremde van Alberton in Gauteng, het Woensdag beweer dat hy uit R170 000 bedrieg is.

“Ek dink ek was net te goedgelowig,” sê Anstey.

Ek dink ek was net te goedgelowig.

Hy het glo geld oorbetaal vir onder meer ’n huis om in te woon, maar sit nou met leë hande. Sy vriendin het ’n aanlyn soek gedoen en besef dat hy om die bos gelei is.

Anstey sê hy het ’n klag by die polisie ingedien.

Petro Ebertsohn van Vanderbijlpark beweer dat sy sowat R15 000 probeer terugkry nadat sy glo oor twee verskillende geleenthede bedrieg is. Sy het ook ’n klag by die polisie ingedien.

Die geld is glo betaal vir ’n bespreking in die Krugerwildtuin, maar dit het die wildtuin na bewering nie bereik nie.

Netwerk24 kon nie Woensdag die man wat na bewering agter die beweerde slenter sit, vir kommentaar bereik nie.

Meer oor:  Binnelanders  |  Dandelion Kunste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.