
Thandazile Phoswa, onderburgemeester van die Richmond-munisipaliteit. Foto: Facebook
Die onderburgemeester van die Richmond-munisipaliteit in KwaZulu-Natal is in die vroeë oggendure van Maandag dood nadat sy in die kop geskiet is.
Volgens die polisie hou Thandazile Phoswa se dood nie verband met politiek nie.
Lt.kol. Thulani Zwane, ’n woordvoerder van die polisie, wou nie bevestig of die persoon wat in hegtenis geneem is, haar vriend is nie.
Hy sê die man wat die gewonde Phoswa na die kliniek geneem het, het homself aan die polisie oorgegee. Hy word aangehou vir ondervraging.
Zwane sê die besonderhede is nog vaag, maar die polisie het kort ná middernag ’n oproep oor ’n skietery in Phoswa se huis in die Ndlaleni-gebied gekry.
“Sy is onderweg na die kliniek dood.”
Die moordwapen is vir ballistiese toetse gestuur.
* Sibusiso Sithole (39), Richmond se munisipale bestuurder, is op 6 Maart in Victoriastraat doodgeskiet terwyl hy werk toe gery het.
Die munisipaliteit het sy skok en hartseer oor Phoswa se dood uitgespreek.
“Die munisipaliteit is gebroke. Ons het ons munisipale bestuurder ’n maand gelede aan die dood afgestaan.
“Ons veroordeel die sinlose moord, ongeag wie dit gepleeg het,” sê Sibonelo Bhengu, ’n woordvoerder van die munisipaliteit.