Die nasionale gesondheidslaboratoriumdiens (NGLD) het twee senior bestuurders en ander personeellede geskors hangende ’n dissiplinêre verhoor, nadat hulle in ’n forensiese ouditverslag uitgewys is vir prima facie-oortredings.
Prof. Eric Buch, raadsvoorsitter van die NGLD, het die aankondiging Donderdag in ’n mediaverklaring gedoen.
“Die geskorste amptenare sluit in die hoof van die voorsieningskettingbestuur en ander personeellede in dié afdeling, asook die finansiële hoof van die NGLD.”
Die NGLD het vroeër versoeke van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke ontvang vir inligting oor spesifieke maatskappye en transaksies. Dit het onder meer betrekking op die verkryging van beskermingsmateriaal in Maart en April.
PWC, ’n ouditmaatskappy, het toe ’n forensiese ondersoek na transaksies tussen die NGLD en ses maatskappye gedoen.
Die PWC-verslag is aan die Valke en die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) oorhandig.
“Die vermeende wanbestuur wat in die verslag uitgewys is, moet vertroulik bly terwyl die dissiplinêre en verwante prosesse hul gang gaan,” lui die verklaring.
Die raad sal voortgaan om te verseker dat hy maatreëls in werking stel om korrupsie te keer, het Buch gesê en uitgewys dat PWC bevind het dat dr. Karmani Chetty, uitvoerende hoof, en die raad hul statutêre en fidusiêre pligte nagekom het.
Op ’n navraag oor wat die eenheid ondersoek, het die SOE gesê dit vorm deel van ’n groter ondersoek na Covid-19-korrupsie.
Die bedrag geld betrokke is nog nie bekend nie, sê Mzimasi Gcukumana, die NGLD se woordvoerder.