Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Ladybrand-polisie waarsku publiek teen bedrieër

Die polisie op Ladybrand in die Vrystaat ondersoek klagte van bedrog teen ’n man wat homself as ’n polisiebeampte voordoen en misdaadslagoffers geld vra om hul gesteelde eiendom terug te kry.

Die persoon is al sedert 2014 besig om mense so uit hul geld te bedrieg en het nou met ’n nuwe slenterslag vorendag gekom.

Sers. Sinah Mpakane, polisiewoordvoerder, sê in die jongste voorvalle gee die man voor hy is die bevelvoerder van die polisie se opsporingseenheid in Ladybrand en dat daar ’n vakante pos in dié eenheid is.

Sers. Sinah Mpakane, provinsiale polisiewoordvoerder. Foto: André Damons

“Hy gee voor hy is ene kapt. Tshabalala, bevelvoerder van die opsporingseenheid, en dat daar ’n werkgeleentheid is. Hy vra mense dan om geld in te betaal by ’n Pep-winkel as hulle die werk wil hê.

“Die mense moet daarna vir hom die Pin (wat nodig is om die geld te onttrek) stuur. Die enigste kommunikasie tussen hom en die slagoffers is telefonies en as hy die geld gekry het, kry hulle hom nie weer in die hande nie,” sê Mpakane.

’n Klag is Dinsdag in die Ladybrand-polisiekantoor aanhangig gemaak.

Volgens Mpakane het die man voorheen ook al polisiekantore gekontak en voorgegee dat hy ’n polisiebeampte is. Hy vra dan die beamptes aan diens of daar enige sake van motordiefstal by die polisiekantoor aanhangig gemaak is.

Hy kontak dan die slagoffers en sê hul voertuie is teruggevind en gereed om afgehaal te word. Hulle moet vir hom geld inbetaal vir vervoer, waarna hy die voertuie sal vrystel.

Hy het dieselfde met veediefstalsake gedoen deur geld te eis om die gesteelde vee aan die eienaar terug te besorg.

Hy vra gewoonlik tussen R500 en R3 000.

“Die polisie waarsku die publiek oor die man wat hom as ’n polisielid voordoen en mense bedrieg,” sê Mphakane. Die publiek word ook gevra om enigeen wat met hierdie man te doen kry die ondersoekbeampte, ao. Hannes Klopper, by 084 299 1188 of 051 923 1703 bel.

Meer oor:  Ladybrand  |  Vrystaat  |  Polisie-Ondersoek  |  Bedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.