Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Lastag’ Solomon glo uit hospitaal ná skietery

Ernie “Lastag” Solomon is na verneem word Woensdag uit die Mediclinic Hermanus ontslaan.

Ernie “Lastag” Solomon. Foto: Peter Abrahams, Die Son

Solomon is die vermeende hoofleier van die Terrible Josters-bende in die Wes-Kaap.

Hy en sy seun Carlo Solomon is Dinsdag ernstig gewond in ’n mislukte sluipmoordaanval in Hawston.

Solomon is na verneem word vyf keer raakgeskiet – glo in sy been, maag en heup. Carlo is glo drie keer raakgeskiet – in sy een arm en voet en hy het glo teen die kop.

Jonathan “Blikke” Thomas (42), wat saam met hulle was, is doodgeskiet.

Carlo is volgens bronne nog in die hospitaal. Hy het glo ernstige skade aan sy arm.

Die skietery was in Hawston, voor Charlie’s Cafe & Take Aways. Die kafee behoort aan Solomon en is reg langs Club Octopus, beweerde hoofkwartiere van die bende geleë.

Polisiebronne in die Overstrand het Woensdag gesê die skietery daar gaan sedertdien onverpoos voort.

Bronne het Woensdag gesê die opdrag vir die aanval het glo uit die tronk gekom en hou glo verband met ’n vete tussen Solomon en sy susterskind Horatio “Voudie” Solomon.

Horatio, ’n vermeende leier van die Terrible Josters van Elsiesrivier, Delft, Wesbank en Kleinmond, is in Maart vanjaar in die kop en bors getref toe meer as 21 skote op sy wit Ford Ranger-bakkie geskiet is.

Hy was saam met sy dogter in die bakkie in die oprit van sy huis in Drakensteinweg in Durbanville Hills in Durbanville.

Carlo Solomon. Foto: Verskaf

Sy dogter is in die bors getref en is die Maandagoggend in ’n hospitaal dood.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Volgens ingeligte bronne het die skietery ’n skeuring in die leierskap van die Terrible Josters-bende veroorsaak.

Verskeie mense met wie Netwerk24 gepraat het, het toe beweer dat daar onmin is tussen Horatio en Solomon.

Daar word gesê Horatio wil ’n groter deel hê van die gebied waar met perlemoen en dwelms gesmokkel word.

Meer oor:  Wes-Kaap  |  Sluipmoordaanval  |  Bendegeweld  |  Skietery
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.