Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Lede van Isis-sel in SA soek

Meer as een lid van ’n vermeende sel van die terreurorganisasie Isis (Islamitiese Staat) is nog op vrye voet ná ’n klopjag op ’n kleinhoewe buite Johannesburg drie weke gelede.

Die huis in Kliprivier waar heelwat Isis-vlae, onwettige wapens en Isis-opleidingsmateriaal in ’n polisieklopjag gevind is. Foto: Elizabeth Sejake

Die polisie het toe onder meer beslag gelê op AK-47-aanvalsgewere, Isis-vlae en ook video-opleidingsmateriaal wat gebruik kan word om terreuraanvalle te beplan.

Een van die mans wat sedert die klopjag by Kliprivier suid van Alberton voortvlugtig is, is twee jaar gelede deur die polisie gesoek ná ’n ekstremistiese aanval op ’n moskee in Verulam, KwaZulu-Natal.

Sy naam is aan Rapport bekend.

Tydens die aanval in Verulam is Abbas Essop vermoor en twee ander mense swaar gewond toe vermeende ekstremiste die Imam Hussain-moskee in Mei 2018 met messe bestorm het.

Die luukse swart BMW X5 wat by al drie Oujaarsaand-skietvoorvalle opgemerk is. Foto: Verskaf

Intelligensiebronne sê een van die 19 mans wat aanvanklik in 2018 ná dié aanval in hegtenis geneem is, maar nooit aangekla is nie, is nou weer op die polisie se radar as ’n potensiële terreurgevaar.

Brig. Vish Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, kon nie die voortvlugtige se identiteit bevestig nie. “Ek is bewus van die verdagte(s) wat nog gesoek word, maar ek kan nie in hierdie stadium sê wie hulle is nie,” het Naidoo Vrydag aan Rapport gesê.

Tydens die klopjag in Kliprivier op ’n hoewe wat glo deur ’n ontvoeringsindikaat gebruik is, het die polisie beslag gelê op verskeie items wat die verdagtes met georganiseerde misdaad of terreur verbind.

Dit het volgens ’n polisiebron ingesluit die nommerplaat van die swart BMW X5-nutsvoertuig wat op 31 Desember 2019 in drie dodelike aanvalle in Johannesburg gebruik is, asook ’n Isis-vlag.

Een van amper 20 Isis-vlae wat volgens intelligensiebronne gevind is. FOTO: Skermgreep/eNCA

Bronne in die intelligensiewêreld het egter die afgelope week gesê die polisie het ook afgekom op ’n klein arsenaal – en nóg bewyse van Isis-bande. “Buiten verskeie ongelisensieerde vuurwapens – onder meer AK-47’s, ’n Uzi-handkarabyn en twee pompaksie-haelgewere – het die polisie ook amper 20 Isis-vlae en video-opleidingsmateriaal by die kleinhoewe gevind,” sê ’n intelligensiebron.

Ricardo Uzair Sasman, Mohammed Waseem Mullah en Lebogang Gift Mamabolo het Maandag vlugtig op aanklagte van menseroof, afpersing, die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie, en roof in die landdroshof in Johannesburg verskyn. Die ander twee Kliprivier-verdagtes het Vrydag in die landdroshof in Vereeniging verskyn. Hulle word aangekla van die besit van ongelisensieerde vuurwapens en omdat hulle glo onwettig in die land is. Hul name mag nog nie bekend gemaak word nie.

“Die verdagtes het ook ’n losprys van R3,5 miljoen van hul slagoffer se familie geëis en videos van hom vir hulle gestuur,” het die bron gesê.

Volgens Naidoo is daar egter tans geen melding in die klagstaat van enige betrokkenheid by die Oujaarsaand-aanvalle nie, waarin twee mense in die drie skietvoorvalle – by Jolly Cool in Parkhurst, Poppy’s in Melville en die Mary Fitzgerald-plein in Johannesburg se middestad – doodgeskiet en 11 gewond is. Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie.

Wat die Verulam-aanval in 2018 betref, is 19 verdagtes in hegtenis geneem, maar slegs 12 is aangekla.

Die saak teen die vermeende baasbreine Farhad Hoomer, Ahmed Haffejee‚ Goolam Haffejee‚ Thabit Mwenda‚ Mohamad Akbar‚ Seiph Mohamed‚ Amani Mayani‚ Abubakar Ali‚ Abbas Jooma‚ Mahammed Sobruin‚ Ndikumana Shabani en Iddy Omari is in Julie vanjaar deur landdros Irfaan Khalil van die hofrol verwyder omdat die saak glo nie hofgereed was nie.

Die beskuldigdes is aangekla van moord en die plaas van ploftoestelle in onder meer Woolworths-winkels.

“Die staat het die hof vir uitstel gevra sodat verdere ondersoek gedoen kan word. Dit sluit in die ontleding van elektroniese aktiwiteite en die ontleding van die beskuldigdes se telefoonoproepe,” sê Natasha Kara, ’n woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) in KwaZulu-Natal. “Senior landdros Irfaan Khalil het beslis omdat die saak reeds twee jaar op die rol was, sou nog verdere uitstel onredelik wees.”

Die staat sal nou toestemming by die provinsiale direkteur van openbare vervolging moet verkry voordat vervolging weer kan voortgaan.

“Die situasie word gemonitor en aan gewerk deur die polisie en aanklaers by die NVG se kantoor vir georganiseerde misdaad,” sê Kara.

Rapport se bron sê Isis se aktiwiteite in Suid-Afrika word al hoe duideliker. “Die Kliprivier-sel word direk met Oujaarsaand se aanvalle verbind, en nou, met die voortvlugtige verdagte (van Kliprivier), ook aan die Verulam-moskee-aanval. So, jy het inhegtenisnames vir Oujaar, Verulam en Kliprivier met gemeenskaplike rolspelers,” sê die intelligensiebron.

Naidoo wou nie kommentaar lewer op die items wat in Kliprivier gevind is nie.

“Ek is nie by magte om kommentaar te lewer oor items wat by ’n misdaadtoneel gevind is nie. Dié items het die potensiaal om as bewysstukke te dien.”

Meer oor:  Natasha Kara  |  Verulam  |  Melville  |  Parkhurst  |  Isis  |  Islamitiese Staat  |  Terreur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.