Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Leerlinge ‘getraumatiseer’ ná onnie by skool geskiet is

“Ons is so getraumatiseer. Geen woorde kan die gevoel beskryf nie.”

Lede van die polisie by Masuku Primary nadat ’n onderwyser daar doodgeskiet is. Foto: Netcare 911

So lui ’n inskrywing op die Facebook-blad van Masuku Primary in Folweni, KwaZulu-Natal, nadat ’n gr. 7-onderwyser Dinsdag helder oordag op die skoolterrein doodgeskiet is.

Folweni is sowat 30 km buite Durban.

Muzi Mahlambi, woordvoerder van die departement van onderwys, sê Sboniso Nyawose (49) was om 09:00 in die parkeerterrein van die skool toe ’n onbekende man na hom geloop en hom verskeie kere geskiet het. Nyawose is in sy maag en kop getref.

“Ons ondersoek nog die rede vir die moord,” sê Mahlambi.

Die moordenaar het gevlug. Nyawose is op die toneel dood verklaar.

Volgens Mahlambi is verskeie leerlinge en onderwysers aan die moordtoneel blootgestel. Ander het die geweerskote in die klaskamers gehoor.

“Dit was chaos nadat die skote geskiet is en daar was nie ’n manier hoe daar verhoed kon word dat die leerlinge blootgestel word nie,” sê hy.

Mahlambi sê onderwysers en leerlinge by die skool is erg getraumatiseer. Die onderwysdepartement reël sielkundige berading.

Kol. Thembeka Mbele, provinsiale polisiewoordvoerder, sê ’n moordsaak word ondersoek.

Ons is moeg vir werkswinkels en beloftes. Die departement moet nou dringend iets aan die gebrek aan veiligheid by skole begin doen.
Naptosa

Intussen het die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders (Saro) asook die onderwysersvakbond Naptosa, die moord van Nyawose ten sterkste veroordeel.

Naptosa het reeds ’n ope brief aan Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, geskryf waarin hy onder meer eis dat die departement dadelik moet ingryp om veiligheidsmaatreëls by skole op te skerp.

“Ons is moeg vir werkswinkels en beloftes. Die departement moet nou dringend iets aan die gebrek aan veiligheid by skole begin doen,” sê Basil Manuel, Naptosa-hoof.

Die Saro het Dinsdag in ’n inskrywing op sy Facebook-blad ’n beroep op die departement gedoen om toegang tot skole strenger te beheer.

Mahlambi sê die kritiek op die departement van onderwys is onregverdig omdat die publiek volgens hom ander departemente oor die hoof sien.

“Daar word op baie plekke geskiet, maar die oomblik wanneer ’n skietvoorval by ’n skool plaasvind, verwag die publiek van die onderwysdepartement om die bomenslike te doen,” sê hy.

Die skool bly tot verdere kennisgewing gesluit.

“Dit is jammer dat die skool nou toe is, maar ons moet die emosies van die betrokkenes beskerm.”

Meer oor:  Masuku Primary  |  Kwazulu-Natal  |  Leerlinge  |  Onderwyser Geskiet  |  Ondewysdepartement  |  Trauma  |  Skool
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.