Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Leerlinge in hospitaal ‘ná geveg met messe en pangas’

Vier leerlinge is in die hospitaal nadat ’n geveg Vrydagoggend by die Humansdorp Senior Sekondêre Skool uitgebreek en leerlinge mekaar na bewering met messe en pangas aangeval het.

Ouers staan Vrydag voor die Humansdorp Senior Sekondêre Skool waar vier leerlinge na bewering in ’n bakleiery beseer is.

Kapt. Gerda Swart, polisiewoordvoerder, sê verskeie polisiebeamptes het omstreeks 07:30 op die voorval by die skool gereageer.

“Vier tienerseuns tussen 14 en 18 jaar oud is met messe en pangas aangeval en na ’n hospitaal geneem,” sê Swart.

Volgens Loyiso Pulumani, woordvoerder van die Oos-Kaapse departement van onderwys, is agt leerlinge behandel of in die hospitaal opgeneem en is die meeste van hulle nie ernstig beseer nie.

Twee van die seuns, onderskeidelik 15 en 17 jaar oud, het egter ernstige steekwonde aan hul kop opgedoen, sê Sizwe Kupelo, woordvoerder van die Oos-Kaapse gesondheidsdepartement. Hulle sou Vrydag na die Livingstone-hospitaal in Port Elizabeth vir breinskanderings oorgeplaas word.

Swart sê vier seuns tussen 16 en 18 jaar oud, wat na bewering by die geveg betrokke was, is deur die polisie ondervra en later in die toesig van hul ouers vrygelaat.

Volgens Pulumani dui hul ondersoek daarop dat die geveg tussen gr. 8- en gr. 9-leerlinge van die skool uitgebreek het. Dit hou glo verband met bendeverwanteaktiwiteite in die woongebied wat na die skool oorgespoel het. Leerlinge wat by die geveg betrokke was, is glo boonop pas terug ná ’n skorsing van sewe dae weens soortgelyke gedrag.

“Ons kan nie bloedvergieting toelaat nie. Dit is onaanvaarbaar dat kinders met messe en pangas by ’n skool opdaag en mekaar aanval,” sê Pulumani.

“Die skool en departement sal ondersoek instel en indien nodig sal leerlinge geskors word.”

Intussen is ouers van matrikulante by die skool hoogs ontsteld omdat daar ondanks die “traumatiese voorval” van matrikulante verwag is om hul biologie-eksamen af te lê.

’n Ouer, wie se naam nie genoem mag word nie, sê sy dogter sal nie op die matriekeksamen kan konsentreer ná die voorval nie.

“Ek voel die matrikulante moes nie vandag geskryf het nie. Hul punte gaan hieronder ly en dit is die punte wat hulle ná skool moet dra.”

Die polisie en verkeersdienste was Vrydagoggend teenwoordig voor die Humansdorp Senior Sekondêre Skool waar ’n geveg tussen leerlinge uitgebreek het.

Nog ’n ouer, wat ook nie genoem wil word nie, beweer die voorval kon deur die skoolhoof voorkom word indien hy vroeër opgetree het.

“Die geveg dreig al heel week en die kinders se gewelddadige optrede kom al van die begin van die jaar af. Die skool wil nie erken hier is ’n probleem nie, want hulle wil nie die departement betrek nie en nou gaan ons matrieks moontlik hieronder ly.”

Pulumani sê hoewel een matrikulant ’n sny op sy arm opgedoen het, het hy steeds eksamen geskryf.

“Ons glo die voorval het nie ’n invloed op die matrikulante gehad nie en die polisie sal teenwoordig wees wanneer daar vanmiddag eksamen geskryf word.”

Ouers het Vrydagoggend by die skool opgedaag om hul kinders huis toe te neem, maar het glo voor ’n geslote hek gestaan en wag.

“Ons wag voor die skool, ons wil ons kinders hier uitkry. Ons het ook nog geen woord van die hoof gehoor nie,” het een van die ouers voor die skool gesê.

Die hoof en die voorsitter van die skoolbeheerraad was nie Vrydagoggend onmiddellik beskikbaar vir kommentaar nie.

Swart sê die Humansdorp-polisiespeurders ondersoek vier sake van aanranding met die doel om ernstig te beseer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.