
’n Graaf lê by die vlak graf waarin ’n pa glo sy vierjarige seun in Jane Furse in Limpopo begrawe het. Foto: SAPD
’n Man van Lesotho sal binnekort in die hof in Limpopo verskyn nadat hy na bewering sy vierjarige seuntjie versmoor en hom daarna in ’n vlak graf begrawe het.
Die 35-jarige man is Sondagaand in Jane Furse in Sekhukhune in hegtenis geneem, sê brig. Motlafela Mojapelo.
Mojapelo sê inwoners van die Ngwanamatlang-nedersetting buite Jane Furse het Sondag die vlak graf ontdek. Dit was in die erf van ’n huis wat die Lesotho-burger gehuur het.
Die gemeenskap wou die man daaroor uitvra, maar hy het weggehardloop.
Van die gemeenskapslede het hom agternagesit, aangekeer en teruggevat na sy huis.
“Die mense het hom gedwing om die graf oop te grawe en daar is op die lyk van ’n seuntjie afgekom,” sê Mojapelo.

’n Graaf lê by die vlak graf waarin ’n pa glo sy vierjarige seun in Jane Furse in Limpopo begrawe het. Foto: SAPD
Die gemeenskap het die man begin aanrand en die polisie moes hom van die woedende skare red. Hy is hospitaal toe geneem.
Mojapelo sê die lykskouing sal bepaal wanneer die kind vermoor is.
Die ma van die kind is ook ’n burger van Lesotho en woon in Gauteng. Die man het die seuntjie glo sowat twee weke gelede by sy ma gaan haal.
Die man sal in die hof verskyn wanneer hy uit die hospitaal ontslaan word.
Lt.genl. Nneke Ledwaba, polisiehoof in Limpopo, het die moord veroordeel en gesê dit is veral skokkend dat dit tydens die 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders plaasgevind het.