Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Lesotho-grens ’n nagmerrie vir boere

Die afgelope dekade het meer as 500 boere weens misdaad hul boerdery teen die Lesotho-grens gestaak, sê Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou (VL).

Wilken het sy misnoeë uitgespreek oor die ernstige geweldsmisdade, waaronder plaasaanvalle, wat in landbougemeenskappe langs die Lesotho-grens toeneem.

Hy sê daar was binne 12 dae drie plaasaanvalle in onderskeidelik die Kommissiepoort-, Zastron- en Boesmanskop-gebied.

Hy sê in al die gevalle is bejaardes aangeval en vuurwapens, geld en selfone is gebuit. Plaaswerkers word ook nie in die oorgrens-aanvalle gespaar nie en twee aanvalle op plaaswerkers is in die inperkingstyd in die Hobhouse-gebied aangemeld.

Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou, het hom weer namens die organisasie teen die regering se beplande Grondwet-wysiging uitgespreek. Foto: Vrystaat Landbou

Wilken sê dié aanvalle dra daartoe by dat al meer boere hul plase verlaat. Dié beweging weg van die grens af veroorsaak dat die grensbuffer al dieper die binneland inskuif, sê Wilken.

Hy sê dit lyk asof die politieke onstabiliteit, die feit dat Lesotho-burgers nie na hul werkplekke in Suid-Afrika kan terugkeer nie, asook voedseltekorte, die groot dryfvere vir die oorgrens-misdade is.

“Dit is kommerwekkend dat veral vuurwapens deurlopend in plaasaanvalle geroof word, wat moontlik op groter interne konflik en onstabiliteit in Lesotho dui,” sê Wilken.

Daleen van der Hoeven, wat in haar 80’s is, is in die oggendure van 3 Julie ernstig in ’n plaasaanval in die Boesmanskop-gebied beseer.

Aanvallers het haar in haar eie voertuig tot by die grens ontvoer en daar gelos. Sy het hulp gekry by Lesotho-burgers wat sy ken.

Wilken sê die polisie in die grensgebied het nie genoeg voertuie nie en die voertuie van polisielede wat belas is met landelike veiligheid, word elders gebruik.

Hy sê dit lei daartoe dat die polisie se dienslewering in landelike gebiede ernstig geraak word.

Tommie Esterhuyse, vise-president van VL, sê Agri SA het al op 31 Oktober 2019 ’n vergadering met pres. Cyril Ramaphosa versoek.

Dié versoek is op 21 Januarie 2020 herhaal, maar geen terugvoering word ontvang nie. Die regering versuim steeds om voorkeur aan die grenssituasie te verleen, sê hy.


Meer oor:  Francois Wilken  |  Lesotho-Grens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.