Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Lesotho-grens: Veeboere van albei lande keelvol
Veediewe buit die swak grensbeheer uit om vee uit Lesotho en Suid-Afrika te steel en oor die grens te jaag. Hier is die polisie in KwaZulu-Natal besig met ’n oorgrensoptrede. Foto: SAPD

Verskeie aanvalle op boere, hul werkers asook die raaiselagtige moorde op drie Lesotho-burgers, het die afgelope tyd weer die fokus op die verslegtende toestande aan die Lesotho-grens met Suid-Afrika geplaas.

Plase teen die grens loop onophoudelik onder diefstal, aanvalle op boere en plaaswerkers en die onwettige wei op plase deur.

Wetsgehoorsame Lesotho-burgers word ook weens dié toestande benadeel.

Misdadigers uit Lesotho buit die swak grensbeheer uit en gesteelde vee word dikwels uit Lesotho na Suid-Afrika gebring en hier aan veespekulante verkoop.

Dít opsigself is ’n groot bedreiging vir Suid-Afrika se biosekerheid omdat die vee nie ingeënt word nie en miltsiekte al voorheen in Lesotho uitgebreek het.

Beeste uit Lesotho is al so ver as Welkom en Sasolburg versprei.

Drie mans van Lesotho is twee weke gelede op ’n plaas by Fouriesburg vermoor. Die plaas waarop die moorde gepleeg is, word deur boere in die omgewing as ’n misdaadnes beskou.

Gerugte doen die ronde dat die moorde gepleeg is deur polisielede van Lesotho wat ook keelvol is vir die oorgrensmisdaad.

’n Jarelange hofstryd om die Suid-Afrikaanse regering te dwing om na grensboere se belange om te sien, het in 2017 tot ’n einde gekom toe die hof in die regering se guns beslis het.

’n Toneel op die grens van Lesotho waar die polisie teen veediewe opgetree het. Foto: SAPD

Gernie Botha, regsadviseur van Vrystaat Landbou (VL), sê nadat die organisasie in 2012 ’n hofbevel bekom het om die regering te dwing om die grens te bewaak, het die een hofsaak na die ander gevolg.

Die regering het teen die oorspronklike hofbeslissing geappelleer.

Op die ou end het die hof in 2017 die bevel van 2012 ter syde gestel en gesê dit is vir die regering onmoontlik om aan die ooreenkoms wat hy in 2012 aangegaan het, te voldoen.

VL het hierna onsuksesvol geappelleer en selfs die konstitusionele hof genader, maar dié hof het beslis dat die kwessie buite sy jurisdiksie val.

Botha sê ’n breë grondpad, wat deeglik omhein is, word vir die grens beplan. Die beplanning is glo reeds ver gevorder.

Intussen laai die spanning teen die grens op omdat politieke onstabiliteit, die staat van inperking en armoede daartoe lei dat Lesotho-burgers al hoe meer oorgrensmisdaad pleeg.

TLU SA se voorsitter in die Vrystaat, Bertus van der Westhuizen, sê die organisasie wil die owerhede nader om weer na ’n oplossing te soek. Hy sê boere is raadop met die probleme wat hulle teister.

Van TLU SA se lede sê die pad waarop soldate moet ry, is vol klippe gepak en dat weermagvoertuie nou op die teerpad ’n ent weg van die grens ry.

Dit is sinloos en dien geen doel nie.

Die polisie is hier besig om gekonfiskeerde vee te inspekteer. Die vee is in ’n oorgrensoperasie tussen Suid-Afrika en Lesotho gekonfiskeer. Foto: SAPD


Meer oor:  Veeboere  |  Veediefstal  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.