Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Lesotho se premiersvrou vir moord gesoek

Terwyl Tito Mboweni, minister van finansies, aanlyn voorspraak maak dat Lesotho deel van Suid-Afrika word, word die premier van dié koninkryk se vrou glo weens moord gesoek.

Verskeie nuuspublikasies berig dat Tom Thabane (80) se huidige vrou, Maesiah Thabane, glo voortvlugtend in dié buurland is. Oproepe dat hy bedank, klink ook al sterker daar op.

Die BBC News berig dat die polisie in Lesotho hulp soek om haar op te spoor sodat sy oor die moord op Thabane se voormalige vrou, Lipolelo Thabane, in 2017 ondervra kan word.

Lipolelo Thabane is twee dae voor Thabane se inhuldiging voor haar huis in die hoofstad, Maseru, doodgeskiet.

Tom Thabane
Tom Thabane

BBC News berig dat die twee vroue in ’n regstryd gewikkel was oor wie amptelik die premiersvrou sou wees. Die hof het in Lipolelo Thabane se guns beslis kort voordat sy doodgeskiet is.

EWN het Woensdag berig dat Maesiah Thabane se prokureurs nie bekend wil maak waar sy haar bevind nie. ’n Lasbrief vir haar inhegtenisneming is uitgereik.

Dié nuusdiens het berig dat die premier en sy All Basotho Convention Party sedert Vrydag in sy ampswoning in Maseru in gesprekke met sy alliansievennote is, en dat sommige ondersteuners aangedui het dat hy ingestem het om te bedank.

Al wat sy aankondiging glo vertraag, is wie sy opvolger moet wees, berig EWN. Opposisie-politici dreig egter om hom in Lesotho se parlement uit te stem as hy nie vrywillig bedank nie.

Volgens die Lesotho Times  word die premier na bewering self by die moord geïmpliseer en moet hy glo vrae beantwoord oor die beweerde gebruik van sy selfoon destyds om met iemand op die misdaadtoneel te kommunikeer.

Dié publikasie berig verder dat Thabane glo ook nie Vrydag geweet het waar sy vrou is toe die polisie op sy ampswoning toegeslaan het om haar in hegtenis te neem nie.

Suid-Afrika, en veral pres. Cyril Ramaphosa, het die afgelope jare gereeld die politieke onstabiliteit in Lesotho namens die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap probeer beredder.

Intussen het Mboweni die afgelope week in reaksie op die politieke krisis in Lesotho getwiet dat “enigiemand wat dink dat hulle Lesotho wil annekseer, met my moet praat”.

“Ons Basotho’s sal nooit so iets goedkeur nie. Stem onderling ooreen om grense te verwyder en skep ’n demokratiese konfederasie.”

Talle twitteraars het met Mboweni saamgestem, soos Teboho Joala, wat meen dat Lesotho polities en prakties deel van ’n nuwe Unie van Suider-Afrika moet wees en dat daar van “hierdie grense ontslae geraak moet word”.

Ander, soos @Loratomaimane, is egter gekant daarteen en glo eerder dat “die ANC as staatshoof verwyder moet word, hulle probeer ons land vernietig”.

“Afrika sukkel, is verarm en al waaraan Tito Mboweni kan dink, is om grense oop te maak. Dit is Lesotho, dan Zimbabwe volgende. Wat gaan met die ANC aan? Konsentreer op ons ernstige probleme TITO!”


Meer oor:  Maesiah Thabane  |  Lipolelo Thabane  |  Tom Thabane  |  Lesotho  |  Premiersvrou  |  Moordklagte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.