Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Lesufi eis antwoorde ná moord op leerling
Laticia Jansen se lyk is Vrydag, ’n dag voor haar verjaarsdag, gevind.

Sy was op pad skool toe, maar die skoolbus wat hulle vervoer, het na bewering vroeër gery.

Nogtans het sy die bykans 6 km na die skool aangedurf. Op pad soontoe is sy verkrag, vermoor en haar lyk is glo aan die brand gesteek.

Nou eis Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, antwoorde van die Graceland Education Center, in Germiston, nadat Laticia Jansen (14) ’n gr. 9-leerling aan die skool sedert Woensdag vir drie dae afwesig was sonder dat iemand iets vermoed het en nadat haar ouma Lynette, Donderdag, ’n dag ná haar verdwyning by die skool was om haar as vermis aan te meld.

Lesufi het Laticia se familie Maandagoggend in Elsburg besoek. Hy sê hy is Sondag deur gemeenskapswerkers oor die moord ingelig.

“Ek het by die skool begin en niemand kon my antwoorde gee nie. Die skool het nie geweet dat Laticia afwesig is nie. Haar ouma (Lynette) het Donderdag na die skool gegaan om te sê Laticia is vermis, en die skool het haar na die polisie verwys,” sê Lesufi.

Hy sê volgens inligting het die bus daardie Woensdagoggend met minder as 10 leerlinge gery.

Laticia Jansen (14) se ouma Lynette. Foto: Felix Dlangamandla

“Die busskedule kan nie verander word sonder dat ouers daarvan weet nie,” sê Lesufi.

Evelyn Mazibuke, voorsitter van die skool se beheerliggaam, sê sy het Sondag op sosiale media daaroor gelees. Mazibuke sê die beheerliggaam is nie oor die verandering van bus se skedules ingelig nie. Mazibuke sê egter sy is onseker oor wat met Laticia gebeur het.

“In dié stadium het ons niks om te sê nie. ’n Ondersoek sal gedoen word. Iemand moet verantwoordelik gehou word,” sê Mazibuke.

Laticia Jansen se familie het Saterdag op haar verjaarsdag, koek geëet by die plek waar haar lyk gevind is. Foto:Felix Dlangamandla
Panyaza Lesufi
Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, praat met die media buite Laticia Jansen se ouma se huis in Elsburg, Germiston. Foto: Felix Dlangamandla

Whitney Barnes, ’n familievriend van die Jansens, sê Laticia het nog Dinsdag, die dag voor haar verdwyning, saam met almal in die straat blikkies gespeel.

“Dis hartseer, net twee jaar gelede is Laticia se ma dood. Laticia en haar twee broers en suster het almal by hul ouma gebly. Hier was ons almal vriende,” sê Barnes.

Barnes sê Laticia se familie is Saterdag, op haar 15de verjaardag na die plek waar haar lyk gevind is. Die familie het ’n kers en kruis daar gelos.

Brig. Mathapelo Peters, polisiewoordvoerder in Gauteng, sê daar is steeds geen verdagtes in hegtenis geneem nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.